Die paartjie wat van die mishandeling en aanranding van hul 10 maande oue baba aangekla is, is borgtog toegestaan, hoewel die pa dit nog nie kon betaal nie.
Die jong paartjie – die ma (19) en die pa (22) – word daarvan verdink dat hulle hul baba oor ’n lang tydperk aangerand het. Die kleintjie was in die Rooikruis-kinderhospitaal weens beseerde ribbes en ’n gekraakte skedel.
Volgens ’n betroubare bron het ’n tuisversorger, wat by die betrokke huis werk, die gru-ontdekking gemaak en die ma en kind na die naaste hospitaal geneem, waarna die kleintjie na die kinderhospitaal oorgeplaas is. Volgens Weskus Nuus se bron het die pa beweer die kind het geval. Die twee is egter Vrydag 9 September deur die Milnerton FCS in hegtenis geneem.
Die pa het Maandag (19 September) R1 000 borg gekry, maar teen druktyd was dit nog nie betaal nie, terwyl die ma op eie berusting vrygelaat is.
Volgens inligting is die plaaslike polisie reeds verskeie kere oor die kindermishandeling gekontak, maar die baba se ma het elke keer blykbaar net gesê niks is fout nie.
Weskus Nuus verneem die baba het intussen “mooi herstel” en is in veilige sorg geplaas, terwyl die ondersoek na klagtes van kindermishandeling voortgaan.
Mense wat naby die paartjie woon, voer aan die mishandeling vind reeds geruimte tyd plaas, maar hulle wou nie uitpraat oor die saak nie weens vrees vir hul veiligheid. Die pa is vermoedelik lid van ’n bende.
“Ons weet wat daar aangaan, maar omdat iemand al op die pa geskiet het, is dit nie so maklik vir ons nie,” het ’n inwoner in die gebied verduidelik.
Gerugte dat dwelms dalk ook ’n groot rol speel, kon nie bevestig word nie.
Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation, wat slagoffers van seksuele misdrywe en geslagsgeweld ondersteun, is dit hartseer dat ’n jong ma die mishandeling wegsteek.
“Ons kan haar nie oordeel nie, omdat sy vermoedelik ook mishandel is of gedreig is. Dit is egter belangrik dat die waarheid moet uitkom sodat hierdie siek euwel in die dorp uitgeroei kan word,” meen Passenz.
Die twee sal weer Vrydag 11 November in die hof verskyn.

