Inwoners en die eienaars van kleinsakeondernemings luister Woensdag 21 September in die Robinvale-gemeenskapsaal aandagtig na die goeie nuus tydens die Asezco, CSN en IWG se terugvoer. Foto: Murphy Roberts


Sakeondernemings in die boubedryf se tyd het aangebreek, het die Atlantis- Spesiale Ekonomiese Sone (Asez) aangekondig.

Die nuus spruit uit die eerste tender vir siviele werke in sone 1 van die Asez, wat reeds geadverteer is, en die kontrakteur sal teen einde November aangekondig word.

Die nuus is Woensdag (21 September) tydens ’n terugvoervergadering aan die gemeenskap bekend gemaak.

Volgens Matthew Cullinan, waarnemende uitvoerende hoof van die Asezco, is hul aansoek vir finansiering – om siviele infrastruktuur binne sone 1 te ontwerp en bou – uiteindelik deur die departement van handel en nywerheid goedgekeur.

“Dit is nie net goeie nuus vir die Asezco nie, maar ook vir die breër gemeenskap en almal in die nywerheidsgebied. Dit is die begin van baie bouprojekte binne die sone en die tyd het nou aangebreek dat die plaaslike gemeenskap hierby baatvind,” meen hy.

Cullinan verduidelik fase 1 van die projek plaas die Asezco in ’n beter posisie om meer beleggers na Atlantis te lok, wat weer meer sakegeleenthede en werk vir die gemeenskap beteken.

Volgens Michael Maroti, voorsitter van die Community Stakeholders Network (CSN), is die tender van byna R90 m gewis welkome nuus vir die dorp.

Die CSN bestaan uit verskillende sektore uit die gemeenskap en verteenwoordig sakelui van verskillende sektore. Maroti sê die tender is opgebreek in kleiner pakkette vir plaaslike ondernemings met ’n waarde van sowat R40 m wat ter sprake is.

Hy sê dit is verpligtend dat dit na plaaslike ondernemings gaan.

’n Suksesvolle verpligte inligtingsessie oor die tender is onlangs gehou, het Chantal Page, komiteelid van die infrastruktuurwerkgroep, laat hoor. Die sessie is Maandag 12 September gehou met aansoeke wat Vrydag 30 September gesluit het. Die evalueringsproses sal nou begin, wat dan die geskikte kontrakteur sal identifiseer.

Bouwerk sal na verwagting dan in Maart 2023 begin om aan vereistes te voldoen soos ’n boupermit, wat ongeveer twee maande neem, asook dat klein-, mikro- en medium ondernemings van binne Atlantis aangestel moet word om die onderskeie dele van die projek te hanteer.

Sone 1, wat ongeveer 14 hektaar beslaan, is geleë op die hoek van Sassenberg- en Charel Uysweg.

Volgens die Asez sal die ontwikkeling op vernuwende wyse gebou word deur gebruik te maak van die Asez se groentegnologiese etos, wat die gebruik van sonkrag aangedrewe plaveisel en die bekendstelling van slim meters moet insluit, en ook geïnkorporeer moet word in ooreenstemming met slim stede oor die wêreld heen, het Page verduidelik.

Die aangewese werkspakkette wat geadverteer is, en die hoofkontrakteur, sal die tenders evalueer en aan die IWG-verslag doen voor toekenning. Die Asezco het hierdie prosedure as ’n vereiste in die tenderdokument aan die hoofkontrakteur gestel en is glo goed deur die bywoners van die inligting ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article