Die span van Aberdeen speel weer die velde aan die brand. Foto: David Rossouw


Aberdeen, wat in die laat 1980’s en ’90’s kookwater-sokker onder die bekende Omar Moses gespeel het, het onlangs die horlosie teruggedraai.

Die span het Champion City 9-1 in hul laaste wedstryd van die Atlantis- plaaslike sokkervereniging (APSV) afgeransel.

Aberdeen het reeds Sondag 19 September op die Saxonsea-sportterrein in sy voorlaaste wedstryd seker gemaak hy is in die wedloop vir Atlantis-LFA se ligakroon toe hy Jomo’s Power se SAB-span 4-2 gelooi het. Dit het hom met drie punte agter die voorloper, Wesfleur, gelaat.

Verlede Sondag (2 Oktober) het Wayne Hare se span seker gemaak hy kwalifiseer vir die SAFA- Kaapstad 2023-SAB-streekuitspeelwedstryde toe hy Champion City 9-1 verniel het. Champion City het met Aberdeen-plofkrag kennis gemaak en was rustyd reeds 3-0 agter.

Hare, wat bygestaan word deur Warren Manuel en Charles Lewis, kom almal uit die goue era van die uitgeslape sokkerafrigter Omar Moses, wie se span in die laat 1980’s en ’90’s ’n pyn vir spanne van Kaapstad was.

Aberdeen het gewys waarom hulle as gunstelinge vir die APSV-ligatitel beskou word toe hy in die tweede helfte nog ses doele aangeteken het.

Hare het die laaste spyker in City se doodskis gekap toe hy die spelers om hom laat val het met briljante voetwerk in die doelhok en Aberdeen se negende en laaste doel in die 85ste minuut aangeteken het. Dit het verseker dat sy span vir die SAB- uitspeelrondes kwalifiseer en gelyk met Wesfleur op 31 punte geëindig het, maar met ’n beter doelgemiddelde.

Aberdeen se doele is aangeteken deur Cedric April (2), Dyan Momberg (2), Theoniel Lombaard (2), Kwaatjie, Wayne Hare en ’n eie doel deur City vir ’n nederlaag van 9-1.. Ander uitslae: Eerste liga: Atlantis Leeds United 1-6 Milano, Zonki Izizwe 1-1 Aberdeen.

Premierliga: Atlantis Leeds United 2-0 Atlantis City, Jomo’s Power 2-2 Robinvale Spurs en Miano 2-2 Zonki Izizwe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article