In Atlantis en oral waar Basil Kivedo spore getrap het, het hy ’n massiewe impak op mense se lewe gemaak.
Dié oud-MK-bevelvoerder, vryheidsvegter, politikus, akademikus, vryskutskrywer en mense-mens is Maandag 3 Oktober op 71-jarige ouderdom in Worcester aan ’n hartaanval dood.
Kivedo, wat in die Oos-Kaap gebore is, het diep spore in Atlantis, Mamre en Pella getrap, waar hy langer as 12 jaar by Quentin Newman en sy gesin in Mamre gewoon het.
Volgens Newman was “Boeta B”, soos hy in die volksmond bekendgestaan het, ’n “diep gelowige mens wie se lewenstyl op sy geestelike waardes gegrond en gevestig was”.
“Hy het ook sy swakhede gehad, maar het gewis bo die uitdagings van die lewe gestyg,” vertel Newman.
Hy sê Kivedo was baie betrokke in die stryd teen Apartheid – in sy jare as student en as lektor in die dae toe prof. Richard van der Ross nog die rektor van die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) was, en ook daarna toe hy sy werk by die UWK weens politieke en ander redes moes laat vaar. Hy het toe onderwys begin gee, en dit is waar sy paaie met Atlantis gekruis het.
Volgens Newman het hy in 1986 as die waarnemende hoof by Proteapark Primêr ’n betrekking vir Kivedo aangebied, maar sewe dae later het Danie Arendse, die destydse hoof by Hoërskool Proteus, gevra of Kivedo nie by Proteus kon inskakel nie, waar hy geskiedenis en voorligting vir die senior leerders aangebied het.
Volgens Newman was Kivedo deel van die bespreking en beplanning wat gelei het tot die stigting van die Atlantis- volwasse onderrigsentrum (Avos) en was die sentrum se tweede uitvoerende hoof ná Gerrit Matthyse.
Avos het aan jonk en oud, wat nie die geleentheid gehad het om te leer, lees en skryf nie, daardie geleentheid gebied asook studiegeleenthede vir leerders wat die skool vroeg verlaat het.
Volgens raadslid Allister Lightburn is hy vandag wat hy is danksy Boeta B.
“Ek was in die jare 1990’s een van sy leerders by Proteus, waarna ek hom na Worcester gevolg en ons saam aan verskillende jeugprojekte gewerk het,” vertel Lightburn.
Kivedo het later by die DA aangesluit en was daarna die burgemeester van Worcester.
Kivedo het later die party in die provinsiale wetgewer verteenwoordig, waar hy ook die voorsitter van die staande komitee vir onderwys was.
Hy het ook in die staande komitee vir sport en kultuursake gedien.
Kivedo laat sy vrou, Rochelle, aangenome seun, Boeta, sy tweelingdogters Zelda en Illana en sy broers, Brain en Joel, asook sy susters, Madeline en Miranda, agter.





