Twee vroue wat met twee neefs van Bangladesh getroud is, en twee tieners word nou as “prossies” en “druggies” uitgekryt.Foto: Murphy Roberts


Hulle word nou geterroriseer en as dwelmverslaafdes en prostitute op sosiale media uitgekryt, maar die seerste van alles is dat twee tieners ook betrek word.

Dié drama oor twee plaaslike vroue, wat met Bangladeshi-neefs getroud is, is besig om in ’n nagmerrie te ontaard, sê hulle. Hulle voer aan die swartsmeerdery kom bloot omdat hulle opstaan teen hul mans. Een van die vroue, wat uit vrees vir haar lewe nie haar naam genoem wil hê nie, vertel haar lewe het handomkeer verander nadat haar man verlede jaar in Pinelands ontvoer is. “Hy het ons onder valse voorwendsels na Malawi laat gaan, omdat ons lewens volgens hom in gevaar was,” vertel sy. Die tweede vrou, oorspronklik van Atlantis, maar wat nou in Chatsworth woon, vertel hulle het eers onlangs uitgevind hulle is saam in die “smeerveldtog”.

Sy vertel: “Ons het ’n suksesvolle onderneming bedryf nadat ek miljoene rande se skuld by die bank moes aangaan – dit alles net om een oggend te hoor dit is nie meer my winkels nie. Ek moes inderhaas die voertuie aan die bank terugbesorg, en dit is waar my marteling begin het.”

Die vroue sê gerugte doen die ronde dat een van hulle haarself, haar dogter (17) sowel as haar vriendin (16) “verkoop” het terwyl die ander glo ’n prostituut is wat dwelms misbruik om die pot aan die kook te hou.

“Ek het wel alles verloor, maar só laag sal ek nie daal nie,” vertel sy.

Die twee vroue, wat elk twee kinders by hul Bangladeshi-mans het, sê hulle ontvang geen finansiële ondersteuning van hul mans nie.

Die twee sê hulle word nou eerder op sosiale media uitgekryt.

Die vroue het aan Weskus Nuus verduidelik dat hulle al die jare saam met hul mans gestaan het en self ondernemings geregistreer het, waarvan hul mans magtiging het om dit te bedryf en bestuur.

“Ons moes net by die huis sit en nie vrae vra nie. Dit is die prys wat ons nou betaal,” meen hulle.

Die vroue sê hulle het intussen klagtes teen hulle eggenote gemaak.

Volgens kapt. Marko Heydenrych van die Malmesbury-polisie word klagtes van crimen injuria ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article