Terwyl die land onder beurtkrag gebuk gaan, het ’n plaaslike werker van Eskom se Ankerlig-substasie dit nie juis vir kragverbruikers makliker gemaak nie.
Angelo Gysman (40), ’n aanleg-operateur, is kort voor Kersfees weens die diefstal van diesel aangekeer en is op borgtog van R50 000 vrygelaat.
Volgens Zinzi Hani, ’n woordvoerder van die Valke, is die verdagte ná ’n interne ondersoek aangekeer en die saak is deur Eskom by die polisie aangemeld.
Hani het bevestig diesel ter waarde van R500 000 is oor ’n tydperk gesteel.
Die verdagte is by sy huis aangekeer. Hy was tuis nadat hy deur sy werkgewer geskors is.
Volgens ’n betroubare bron is ’n interne ondersoek van stapel gestuur nadat die verdagte vermoedelik ’n vol tenk diesel as leeg verklaar het.
Volgens inligting wat Weskus Nuus bekom het, het Gysman toestemming gegee dat die “leë” tenk van die perseel verwyder mag word. Hani het verduidelik die saak word nou deur die Misdaad teen die Staat-eenheid ondersoek. Die moontlikheid dat die voorval tot ’n sindikaat verbind kan word, word ook ondersoek.
Volgens adv. Bruce Hendricks, wat Gysman verteenwoordig, wou die staat borgtog teenstaan omdat hulle die moontlikheid van ’n sindikaat ondersoek.
Die hof het egter borgtog toegestaan aangesien dit ’n skedule 1-misdryf is, wat as ernstig geag word.
Weskus Nuus se bron het verklap nog inhegtenisnemings kan binnekort verwag word.Gysman verskyn Vrydag 24 Februarie weer in die hof.




