Sakelui wat deel wil word van die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) se onderskeie projekte, kan steeds vir die Asez se databasis registreer.

Volgens die Asez is een van sy kerndoelwitte om die plaaslike ekonomie te versterk en indiensneming en herlewing te bevorder deur binne die plaaslike sakegemeenskap geïntegreer te word.

Kleinsakeondernemings speel ’n belangrike rol in die ekonomie en is sleuteldrywers van groei, vernuwing en werkskepping, sê die Asez.

Die Asez nooi dus plaaslike klein-, medium- en mikro-ondernemings om deel van hul ondernemings­ontwikkeling­sprogramme te word.

“Ons ondernemingsontwikkelings­programme is daarop gerig om kleinsakeonderneming van Atlantis, Mamre, Pella en Witsand te ondersteun. Dit sluit in eenmansake, vennootskappe, maatskappye (Edms. en Bpk), openbare maatskappye, kettinggroepe en selfs opkomende ondernemings.

“Met ons siviele werk in sone 1, wat binne die volgende paar maande ontplooi gaan word, moedig ons alle KMMO’s in die omgewing aan om uit te reik en op ons databasis te registreer,” het die Asez in ’n verklaring verduidelik.

Sakelui kan hul plaaslike onderneming só op die databasis registreer:. Stuur eers e-pos na florenchia@ atlantissez.co.za, waarin jy aandui dat jy op die Asez-maatskappy se databasis wil registreer.. ’n E-pos sal aan die KMMO gestuur word wat aandui watter dokumente ingedien moet word om suksesvolle registrasie te verseker. Neem asseblief kennis dat alle dokumente regsgeldig moet wees. Hierdie dokumente sluit in:

1. CIPC-registrasiedokumente

2. Geldige belastingklaring­sertifikaat

3. Geldige BBBEE-sertifikaat/-eedsverklaring

4. Gesertifiseerde afskrif van die KMMO-eienaar

5. Kontakbesonderhede van die KMMO’s se kantoornommer

6. Bewys van munisipale rekening/brief van wyksraadslid/polisie-eedsverklaring

7. CIDB-gradering (indien in bouwerk by die CIDB geregistreer is)

8. Indien geregistreer op die Sentrale Verskaffer databasis (CSD), die volledige verslag.

9. ’n Bank-bevestigingsbrief

10. Ondernemingsprofiel (indien beskikbaar)

11. Halaal-sertifikaat (indien jy in spyseniering werk)

12. Sertifikaat van aanvaarbaarheid vir kospersele (vir spyseniering)

Sodra die bogenoemde dokumente aangestuur is, sal die aansoek op die KMMO-verskaffersdatabasis onder die maatskappy se naam en in die verwante sektor gestoor word.

Dokumente sal gereeld hersien word en indien nodig sal opgedateerde dokumente aangevra word.

Sodra hierdie proses voltooi is, kan die Asez kleinondernemings bystaan met hul maatskappy-profiele of help met maniere om te verseker dat alle vereistes nagekom en die nodige dokumente opgedateer word.

Die Asez help ondernemings egter nie met enige finansieringsaansoeke nie en verskaf ook nie finansiering nie.

“As jy voel jou KMMO kan by ons databasis baat, moedig ons jou aan om die stappe hierbo te volg om te registreer, of stuur enige navrae na admin@atlantissez.co.za,” dring die Asez aan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article