Die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Ases) het die Sone 1- siviele konstruksie-tender aan WCB-konstruksie toegeken.
WCB is ’n swart geleide, opkomende konstruksiefirma in die Wes-Kaap, wat deur jeug besit word, en het ’n uitstekende rekord. Ons is uiters trots om saam met hierdie span te werk en vol vertroue in hul vermoë om die opwindende projek wat voorlê, te voltooi en om saam met ons en plaaslike KMMO’s te werk om dit te doen. Hierdie tendertoekenning is ’n mylpaal in die ontwikkeling van die Ases. Zutari, wat die gedetailleerde ontwerp gedoen het, sal die raadgewende ingenieurs bly en sal die daaglikse konstruksie-toesig bestuur.
Saam met ons vennote en gemeenskapsbelanghebbendes het ons hard gewerk om tot by hierdie punt te kom. Ons is nou almal gefokus om seker te maak dat ons saam die pad na implementering stap. Die Ases sal nou betrokke bly in die proses.
Dit is ’n stewige stap in die rigting van tasbare resultate. Ons moet in gedagte hou dat die ontwikkeling van die spesiale ekonomiese sone – met Sone 2 en 3 wat nog moet kom, plus al die beleggers en huurders – minstens 10 jaar sal neem om te voltooi.
Die Ases is hier vir die lang termyn en nog vele konstruksieprojekte is op pad. Die bou van die siviele infrastruktuur is wat werk en geleenthede vir die KMMO’s sal skep.
Die proses om siviele werke te doen, begin met die skoonmaak van die terrein (verwydering van die grondbedekking).
Die volgende stap is dan om die grondwerk te doen (om die vlakke oor die terrein reg te kry). Van daar af sal al die grootmaat pypwerk gedoen word (dinge soos die rioolpype ensovoorts).
Sodra dit klaar is, word die paaie gesny en begin die laagwerke.
Die finale proses is dan om die stormwaterstelsels, moeras-land en tuinmaak af te handel.
Die meeste van hierdie komponente sal die betrokkenheid van plaaslike KMMO’s op een of ander manier insluit.
Ons het ’n lang pad gestap, en ons begin nou sien dat dinge in die regte rigting beweeg. Baie meer moet nog gedoen word, maar die toekoms lyk groen.
Laat ons aanhou druk en saamwerk na daardie groen toekoms. Die Atlantis- spesiale ekonomiese sone-maatskappy en al sy werknemers het een gesamentlike visie – om werksgeleenthede op ’n volhoubare en inklusiewe manier te sien groei.
Tot volgende keer, Matt


