Jerome Klaasen van Atlantis storm vorentoe vir Atlantis se eerste drie teen Fisantekraal. Atlantis het die wedstryd 48-12 gewen.Foto: David Rossouw


Atlantis het sy eerste rugbywedstryd afgeskop en ’n welverdiende wegholoorwinning van 48-12 oor Fisantekraal op die Proteapark-sportterrein onder die nuwe breier, Dennifer “Boelie” Solomons, behaal.

Atlantis, wat maar baie onseker aan die begin van die wedstryd gespeel het, het egter met die verloop van spel sy ritme gevind. Die span het gaan water drink met die telling 19-0 teen Fisantekraal.

Fisantekraal het Atlantis groot laat skrik toe hy net ná die draaislag twee vinnige drieë en ’n doelskop ingeryg het, wat die telling 19-12 gekrimp het.

Atlantis het egter vinnig met sy blitsige agterlyn teruggeslaan en 14 punte in die bestek van twee minute aangeteken, wat die telling tot 33-12 laat groei het. Die tuisspan het egter daarna gewys hy is nog nie klaar met die besoekers nie deur nog twee drieë in die laaste kwartier aan te teken, wat Fisantekraal se doppie geklink het.

Dit was ’n goeie begin vir Solomons en sy nuwe afrigtingspan, Franco Johannes en Fabian Brandt. Die verwagtinge is dat hulle net verder in hul tweede vriendskaplike wedstryd kan verbeter wanneer hulle die Moorreesburg-rugbyklub (Samoa) Saterdag (4 Maart) in ’n wegwedstryd in Moorreesburg aandurf.

Die ander buurspanne het ook groot oorwinnings behaal. Hamlets het Wesbank ’n loesing van 54-12 op die Mamre-sportterrein toegedien, terwyl Mamre die span van Moorreesburg (Samoa) op dieselfde veld 64-10 geslag het. Op die grafkelder het Young Hearts die Koringbergers ook ’n loesing van 35-7 toegedien. Neil Papier se swart truie het egter in ’n wegwedstryd 21-12 teen Robertson vasgeval.

Met dié hoë tellings vroeg in die seisoen kan ondersteuners uitsien na opwindende rugby in die Boland- en WP-rugby-unies vir 2023.

Vyftienmanrugby is ook terug op die spyskaart. Ná die afgelope naweek se uitslae dui dit op opwindende wedstryde wat hierdie naweek gespeel kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article