Die onafhanklike uitsaaiowerheid van Suid Afrika, wat telekommunikasie, die uitsaaiwese en posdienste in openbare belang reguleer, het Saterdag ’n landwye verbruikersregteveldtog in Atlantis begin.
Die owerhede moet toesien dat inwoners landwyd verseker is van bekostigbare gehaltediens van diensverskaffers.
Volgens Xolile Mateza van die uitsaaiowerheid is die veldtog baie belangrik vir verbruikers om hul regte te ken as hulle ongelukkig is oor diens wat hulle van verskillende diensverskaffers kry. Hy sê die doel van die veldtog is om verbruikers bewus te maak dat klagtes wel by die owerhede ingedien kan word as hulle benadeel word. Met verskeie diensverskaffers soos die SABC, verskillende radiostasies en selfoondiensverskaffers wat uitgestal het, is inwoners ook vermaak met plaaslike talent en geskenkpakkies van die reguleerder.
Radio Atlantis, wat as gasheer opgetree het, en Good Hope FM het die gebeure regstreeks uitgesaai.
Raadslid Allister Lightburn, wat as spreker genooi is, het inwoners gevra om nie net te aanvaar as hulle probleme met diensverskaffers het nie. Hy het inwoners verseker alle diensverskaffers – veral dié wat lugtyd verkoop – moet ook by die reëls hou.
Mateza het inwoners ook herinner almal wat deur die owerhede reguleer word, moet by die gedragskodes hou en veral klem gelê op die telekommunikasie en uitsaaiwese.. Klagtes kan op die webwerf aangemeld word of na 012 568 3444 gefaks of per e-pos na consumer@icasa .org.za gestuur word. Klagtes kan ook per pos gestuur word.




