Amptenare van die departement van maatskaplike dienste moes hul kantore verlede week inderhaas ontruim nadat reënwater byna die plek oorspoel het.
Met water wat op plekke enkelhoogte in kantore gelê het, was personeellede woedend omdat hulle nie inwoners kon help nie. Met die ergste reën wat nog moet kom, vrees werkers nou dat inwoners benadeel gaan word.
Met WeskusNuus se besoek aan die kantoorgebou het werkers reeds buite gestaan omdat baie van die kantore se lêers natgereën het en hulle nie inwoners kon bystaan nie. Maatskaplike werkers het steeds probeer help waar hulle kan, maar om mense so openlik in die openbaar te help, is nie juis ’n goeie plan nie, het hulle laat hoor. Volgens Gwendoline Daniels van Saxonsea gee sy nie om waar sy gehelp word nie, maar sy was teleurgesteld dat sy moes omdraai. “Ek het verlede week byna elke dag na die kantoor gegaan net om te hoor die kantoor is toe.” Teen druktyd was die kantoor steeds gesluit, maar die plaaslike personeel het vanuit ander takke gewerk. Die probleem kom reeds ’n geruime tyd aan, het iemand aan WeskusNuus gesê: “Die fout word net tydelik opgelos.” WeskusNuus wou by die departement van openbare werke, die toesighouer van infrastruktuur, weet hoekom die kantoor gesluit is, maar Jacqui Gooch van dié departement kon nie bereik word nie. Openbare werke huur die gebou van ’n plaaslike sakeman, wat ook nie bereik kon word nie. WeskusNuus het wel vertroulik verneem dat werk intussen op die dak van die gebou gedoen is, maar dit kon nie bevestig word of die plek gereed is vir amptenare om terug te keer of wanneer die dienste hervat sal kan word nie.


