Atlantis se Baggy Blues het verlede naweek sy rieme behoorlik styfgeloop teen Belhar. Die eendagwedstryd, wat Saterdag 18 Januarie op die Robinvale-sportterrein beslis is, het maar min hoogtepunte vir die tuisspan opgelewer.
Met die besoekers wat eerste gekolf het, kon die tuisspan se boulers glad nie op dreef kom nie en het die besoekers ’n allemintige 309/7 in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken. Die tuisspan, wat meer as ses lopies per boulbeurt vir ’n oorwinning moes aanteken, is egter almal uit vir 106 lopies, wat aan die besoekers ’n oorwinning van 203 lopies besorg het.
Die tuisspan se kolwers kon ook nie die mas opkom nie en Jade Whites (71) was die enigste kolwer wat weerstand kon bied. Whites het sy tweede vyftigtal agtereenvolgens aangeteken, maar het geen ondersteuning van sy spanmaats gekry nie. Terwyl die paaltjies rondom hom gekantel het, het Whites die telbord aan die rol gehou. Geen ander kolwer kon dubbelsyfers behaal nie, wat groot rede tot kommer is.
Baggy Blues het in sy vorige wedstryd ook verloor en sal gewis baie vinnig die sokkies moet optrek.




