“Ons gaan nie met terroriste onderhandel nie!”
Só het Malusi Booi, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, tydens die amptelike begin van fase twee van die Kanonkop-behuisingsprojek, gesê.
Booi het hom sterk uitgelaat oor die “konstruksie-mafia” wat tans die tonge behoorlik los het en ook reeds die lewe van onskuldiges geëis het. Booi sê die beloning van R100 000 vir inligting oor die dood van ’n amptenaar van die Stad op ’n bouperseel in Delft is intussen na R1 miljoen verhoog.
Booi het aangekondig dat fase twee van Kanonkop se laekoste-behuisingskema voorsiening maak vir 1 762 huise en dienste vir die erwe is reeds op dreef.
Die GAP-behuisingsprojek, waar meer as 500 huise gebou word, het ook reeds begin. “Die projek is vir mense wat nie vir die volle staatsubsidie en ’n volle banklening kwalifiseer nie,” het hy verduidelik.
“Ons wil reeds vroeg in volgende jaar met die bou van die huise begin. Baie van die Stad se projekte word deesdae deur die konstruksie-mafia geteiken, maar ons gaan dit nie langer duld nie.
“Ons het besluit op ’n zero tolerance-agenda en kontrakteurs moet onmiddellik die polisie of wetstoepassers kontak indien iemand net in daardie rigting praat!”





