Hamlets en Young Hearts het mekaar Saterdag op die grafkelder in ’n historiese wedstryd gepak, wat 19 elk gelykop geëindig het. Foto: Murphy Roberts


Dit was taai en genadeloos, en tog iets om te aanskou – Young Hearts het Hamlets Saterdag op die grafkelder onthaal in ’n historiese wedstryd tussen die twee spanne wat 19 elk geëindig het.

Young Hearts het eerste bloed geruik toe Jade Solomons die besoekers se verdediging met sy drentel-lopies aan flarde geskeur en ’n drie gedruk het.

Hamlets het egter nooit geskroom om die bal lug te gee nie en het die een aanval na die ander weggestuur, maar die gebrek aan afronding het ontbreek.

Die besoekers het die swak mondering in die tuisspan se verdediging blootgelê, maar hanteerfoute voor ’n oop doellyn het die besoekers op die agtervoet gehou.

Die twee spanne se dissipline het in veral die eerste helfte gelol en die skeidsregter het vyf spelers laat afkoel.

Met die tuisspan wat in ’n stadium met 13 spelers oor die weg moes kom, kon die besoekers ook nie munt slaan uit die situasie nie. Met 30 spelers wat hul lywe op die spel geplaas het, het die besoekers sake gelyk gemaak en die spanne het gaan water drink met die telling 7 elk.

Hamlets het egter vroeg in die tweede helfte die neus voor gekry met ’n onverdoelde drie. Dit het die span van Ruben Abels net meer motiveer en Young Hearts het minute later weer die voortou met nog ’n verdoelde drie geneem.

Die twee spanne het daarna die bal die werk laat doen en die volgepakte veld is met skitterende hardlooprugby vermaak.

Hamlets het weer die skaal in sy guns geswaai met ’n verdoelde drie om 14-19 voor te loop. Die tuisspan het egter weer die grafkelder laat brul van plesier met ’n onverdoelde drie om die telling 19 elk te maak. Die twee spanne het met 10 minute oor die beste voetjie voor gesit, maar met rotsvaste verdediging en hanteerfoute aan beide kante kon niemand die uitklophou plant nie. . Mamre se groen truie het die verdedigende Swartland-kampioen Wesbank met 22-12 in Malmesbury geklop nadat hy rustyd reeds 15-0 voor was.

Atlantis het op sy tuisveld 17-24 teen Morning Star vasgeval.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article