Ek en my vrind Petrus is nou in groot moeilikheid.
Sy niggie het hom gevra of hy nie iemand ken wat wit duiwe het om te verhuur nie – daai’s wat jy so mooi laat wegvlieg by ’n troue. Dis mos meer om rus en vrede te verteenwoordig. Mense doen dit al meer en meer by troues, want dis nogal mooi as die duiwe so wegvlieg en die bruid en bruidegom staan en soen nou so romanties.
Jong, sê Petrus vir sy niggie, ek weet van iemand wat R4 000 vra. Die duiwe is mooi opgelei. En daar gee Petrus se niggie somer die geld vir hom – net daar voor my. Op pad huis toe sê ek vir Petrus ek is nogal nou lus vir ’n bier; ek sal betaal. toe ons klaar die biertjie gedrink het, bied Petrus ook vir my ’n brannas en coke aan, en ek sê ja.
Ná die vyfde brannas vind ek uit Petrus is dan besig om van sy niggie se geld te gebruik.
Genade, toe ek hom vra daaroor, het hy nog net ’n R1 500 oor. Ek skel toe met hom en sê hy moet my huis toe vat; ons sal die probleem môre uitwerk. Die volgende oggend toe ek hom bel, sê Petrus liewer vir my ’n ander ding… toe hy die hek oopmaak om sy kar in te trek toe roof drie manne hom van als, so die R1 500 is ook nou weg. Ek sê toe nee, laat ons kalm bly en ’n plan beraam. Kom ons loop vang 10 duiwe, dan maak ons of ons hulle van die duiweman af bring. Maar die duiwe is te slim. Ons het omtrent heeldag gesoek, maar niks.
Toe kry ek ’n blink gedagte. Ek sê toe kom ons loop vang liewer 10 seevoëls. Hulle is makliker om te vang, want hulle bly mos uitgevreet. Jy kan hulle met kos lok. So vang ons vier, maar die goed is só wild en bakleierig. As jy hulle in die hok sit, baklei hulle twee dood. Ons moes 16 vang net om sewe lewendiges te hê. Op die dag van die troue kom ons heel opgemaak met die seevoëls daar aan. Die troue is so uitgewerk dat al die kos en koek sommer net daar is waar Petrus se niggie en haar man trou. Man, dis mooi en fraai. Dit lyk soos ’n sprokiesverhaal. En daar sê hulle “I do” en die dominee sê “you may kiss the bride”.
Nou moet Petrus die hok oopmaak laat die “duiwe” wegvlieg. My genade, hier vlieg die goed reguit na die kosse toe. Dis net ham en vleis en koek wat spat. Ek’t somer saam met die ou bruidjie aan die huil geraak. Ek sien net daar klap die man vir Petrus en hier kom hy na my toe. Toe hardloop ek.
My ma sê Petrus was al vier keer by ons huis met die man.



