Die Aberdeen-sokkerklub se tweede paastoernooi beloof om goeie sokker op te dis en sal gewis lekker ingelegde vis insluit.
Die toernooi, wat Saterdag 8 April op die Robinvale-sportterrein afskop, eindig Maandag 10 April.
Volgens die toernooi-organiseerders sal 16 senior spanne, 16 junior spanne en 16 netbalspanne sake vir die prysgeld uitspook.
Ruben Khan, die voorsitter van die klub, sê die seniors speel vir prysgeld van R12 000 terwyl die juniors en netbalspanne vir R6 000 meeding.
Volgens Khan is die meeste van die spanne plaaslik, maar Hanoverpark en Hazendal is van die besoekende spanne.
Die verdedigende senior kampioen, Aresenal FC van Witsand, sal gewis sy titel wil verdedig en kan moeilike teenstand van ander klubs kry.
Die junior kampioen, Jomos Power, sal ook weer probeer om met die louere weg te stap. Met Hanoverpark wat in die Motsepe-ABC-liga speel, sal die span fyn dopgehou moet word, terwyl Hazendal die verdedigende Rygate LFA-kampioen is en ook nie ligtelik opgeneem kan word nie.
Volgens Khan beplan hulle reeds aan volgende jaar se toernooi.
Dit beloof om selfs beter en groter te wees en hy sê hulle is reeds in gesprek met groter borge vir die toernooi.


