Fadiel Adams, die leier van die Cape Coulored Congress, sê Malusi Booi se skorsing is “net ’n rookskerm” om ander te beskerm. Foto: Verskaf


Opposisiepartye in die Stad Kaapstad braak behoorlik gal en sê die regerende party handhaaf dubbele standaarde as dit by raadslede kom.

Die drama volg nadat Malusi Booi, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting, verlede week geskors is.

Booi is geskors nadat die polisie sy kantoor deursoek en op verskeie selfone en ander elektroniese toerusting beslag gelê het. Bewerings van tenderbedrog en korrupsie word glo ondersoek.

Volgens Fadiel Adams, leier van die Cape Coloured Congress (CCC), is dit skokkend dat Booi, wat nog nie aangekla of in hegtenis geneem is nie, geskors is, terwyl Nora Grose, die voormalige subraad 1-voorsitter, wat op R10 000 borgtog uit is en tans op aanklagte van bedrog en geldwassery verhoor word, steeds ’n raadslid is.

Adams het hom sterk uitgelaat teen die regerende DA in die stad en sê die Booi-drama is ’n rookskerm om ander te beskerm.

“Malusi Booi gee nie opdragte nie en is net ’n politieke aanstelling wat ’n oorsigrol moet vervul,” sê Adams. “Wie teken die tenders af? Wie kanselleer tenders? Wie betaal die geld? Dít is die vrae wat gevra moet word.”

Adams het die DA van rassisme beskuldig en sê ander raadslede word met handskoentjies hanteer.

Volgens die GOOD-raadslid Suzette Little verwelkom hulle die skorsing van Booi, maar sy sê die DA moet al die misdaadverdagtes in hul koukus oor dieselfde kam skeer.

Little sê terwyl Grose se regshulp met openbare geld betaal word, is dit ’n duidelike teken van die party se dubbele standaarde. Sy sê ook Geordin Hill-Lewis, die burgemeester, weet reeds lankal van die bewerings teen Booi en vra hoekom hy tot nou gewag het om op te tree? “Die burgemeester moet aan die inwoners verduidelik as hy ernstig is oor ’n skoon regering.”

Sifiso Mtsweni van die ANC sê ’n forensiese ondersoek deur die voormalige burgemeester Dan Plato is van opposisieraadslede weerhou. Hy sê Hill-Lewis moet die verslag, “wat stof opgaar”, bekend maak. Mtsweni het ook die regerende party van rassisme beskuldig en sê Booi sou op die party se volgende verkiesingskongres vir ’n leiersposisie gestaan het. Volgens Mtsweni het die DA dieselfde met Bonginkosi Madikizela gedoen toe dit bekend word hy gaan hom as burgemeesterskandidaat beskikbaar stel.

“Ons hanteer al ons lede dieselfde en ons diskrimineer nie teen enige lid van die party nie,” het Tertuis Simmers, die provinsiale leier van die DA, in reaksie gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article