Komiteelede van die Mamre-sakekamer is, van links, Usen Jacobs, Wilfred Pick, Lindy Kraak de Vos, gasspreker Wesley Beneke, Vernon Kruger en Jerome Evertson. Oscar Pick was afwesig.Foto’s: Murphy Roberts


Die Mamre-sakekamer het Vrydag (31 Maart) sakelui van Mamre en die omliggende gebied by hul eerste sake-ontbyt toegespreek.

Wesley Beneke, uitvoerendebeampte en besturende direkteur van WCB Construction, was die gasspreker by die geleentheid. Beneke se maatskappy is onlangs as die hoofkontrakteur vir die eerste fase van Atlantis Spesiale Ontwikkelingsone (Ases) gekies.

Mamre-sakekamer is onlangs op die been gebring en word deur ses kranige besigheidseienaars van die dorp bestuur. Die ses maak die forum se tydelike bestuurkomitee uit.

“Ons doelwit met die entiteit is daarop gevestig om plaaslike ondernemings te help groei en sodoende tot die ekonomiese vooruitgang van ons gemeenskap by te dra,” sê die voorsitter, Wilfred Pick.

“Ons wil plaaslike ondernemings help om te voldoen aan vereistes om deel uit te maak van die besigheidsgeleenthede wat beskikbaar is, om netwerkgeleenthede te skep, om opvoeding moontlik te maak oor relevante entrepreneuriese onderwerpe en om die kollektiewe stem vir die plaaslike besighede te wees,” verduidelik Pick.

Hy meen daar is baie werk wat wag op die komitee om te verseker dat die 62 lede wat tans deel is van die sakekamer ten minste voldoen aan die minimum vereistes om kontrakte te werf, of dit nou privaat of vir die staat is.

“Die fokuspunt is om seker te maak niemand word agtergelaat nie. Ons praat van die tannie of oom wat hul eie tuisnywerheid vir jare met die lekkerste gebak bestuur. Van die familie wat al vir generasies tuisgemaakte maaltye voorsien aan toeriste, of die persoon waarnatoe almal gaan as daar gebou of geverf word. Van die entrepreneur wat die mooiste meubels met plaaslike hout maak en die persoon wat sy eie onderneming begin het nadat daar vir jare vir ’n baas gewerk was.”

Pick sê verder Mamre se sakelui beskik oor al die nodige vaardighede om enige kontrak aan te pak en die organisasie sal die leidende hand wees wat sal seker maak plaaslike ondernemings kan ook vir besigheidsgeleenthede meeding.

Vir navrae oor die Mamre-sakekamer, e-pos info@mamrebusinesschamber.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article