Mamre het Saterdag (1 April) die verdedigende Boland-rugbykampioen, Saldanha-rugbyklub, op sy tuisveld 80 minute lank harde bene laat kou in die spanne se openingswedstryd van die Boland-Grootuitdaagbeker.
Saldanha, wat rustyd 13-10 voor was, het die wedstryd 25-20 gewen.
Die wedstryd was in die eerste tien minute betreklik rustig met die tuisspan wat balbesit en gebiedsvoordeel geniet het, maar nie deur die besoekers se verdedigingslinie kon breek nie.
Die groentruie van Mamre, wat vanjaar drie sewestitels gewen het in die vier eindstryde waarin hulle gespeel het, het gewys hulle hoef nie in die 15-man-kode vir enige span terug te staan nie.
Mamre het die tuisspan met rotsvaste verdediging op die agtervoet gehou. Die tuisspan het egter eerste bloed geruik met ’n onverdoelde drie om 5-0 voor te loop.
Die verdedigende kampioen het sy voorsprong later met nog ’n onverdoelde drie verdubbel.
Met singende ondersteuners wat die tuisspan aangehits het, het die besoekers egter die stadion stil gespeel en ook twee onverdoelde drieë behaal om sake gelyk te maak.
Maar, danksy ’n strafdoel kort voor rustyd, het die toeskouers weer lewe gekry en die spanne het gaan water drink met die tuisspan 13-10 voor.
Saldanha het in die tweede helfte gewys hoekom hy die kampioen is en die wa met karakter en veggees deur die drif getrek.
Mamre het die tuisspan met aanvallende rugby en rotsvaste verdediging nooit die oorhand laat kry nie en die wedstryd kon enige kant toe geswaai het.
Young Hearts het op die grafkelder byna die kluts kwytgeraak in die laaste 15 minute teen Velddrif. Die tuisspan, wat rustyd 25-6 voor was, was baie verlig toe die eindfluitjie blaas met die telling 38-32.
Met verlede seisoen se agterosse wat ook reeds vroeg hul stem dik maak, het Hopefield vroeg in die seisoen die grootste verrassing gelewer toe die patattrappers die snoekvangers uit die agterbaai St. Helenabaai op sy tuisveld 10-13 geklop het.
St. Helenabaai het verlede seisoen ’n droomseisoen beleef en was die enigste span wat Saldanha tuis en weg kon klop.
Die nuweling, Koringberg, het Vredenburg se Burg Boys omtrent laat sweet vir ’n oorwinning in Vredenburg en die tuisspan het die stryd 24-17 gewen.
Volledige uitslae van die naweek: Piketberg 24-23 Langebaan, Saldanha 25-20 Mamre, St. Helena 10-13 Hopefield, Vredenburg 24-17 Koringberg en Young Hearts 38-32 Velddrif.
Paternoster het ’n loslootjie gehad.
Spanne gaan ook nou eers hul kerrievis geniet voordat ligaverpligtinge hervat word.
. Paternoster sal Saterdag 15 April vir Young Hearts gasheer speel, terwyl Velddrif vir Piketberg op sy tuisveld sal ontvang. Langebaan sal wil opmaak wanneer die Burg Boys aan die kus kom kuier en St. Helenabaai sal vyf sakke koring (en ’n sege) wil saambring wanneer hulle die nuweling Koringberg besoek.




