Vertel ons ’n bietjie van jouself en jou agtergrond? Ek het op ’n plaas in Mpumalanga grootgeword en my hoërskoolopleiding in Swaziland gedoen. Ek het aan die UK gestudeer en ’n meestersgraad in stads- en streekbeplanning verwerf. Ek het in 1997 ’n konsultasiemaatskappy gestig, wat ek bestuur het totdat ek ’n paar jaar gelede voltyds by die Asez aangesluit het.
Wat dink jy van Atlantis as geheel? Atlantis is ’n moeilike plek met wonderlike mense. Dit groei op jou. Dit is ’n gemeenskap wat deur baie uitdagings moes worstel. Armoede en werkloosheid bly die grootste uitdaging. Daar is groot potensiaal en as ’n Sez is ons hier vir die langtermyn om ons rol te vervul om dié uitdagings die hoof te bied.
Waarna sien jy die meeste uit in jou nuwe rol as uitvoerende hoof? Wat my as uitvoerende hoof opgewonde maak, is dat ons ’n wonderlike span en ’n baie duidelike stel doelwitte het – dit gee my vertroue. Ons het ook aandeelhouers, vennote en ’n gemeenskap wat daardie doelwitte deel. Ons bou gedeelde waarde in wat ons doen en hoe ons saamwerk. Blywende verandering word die beste bereik wanneer jy baie mense en organisasies het wat almal in dieselfde rigting beweeg en elkeen sy of haar stukkie van die legkaart voltooi. Dit is die geleentheid en die uitdaging.
Wat is jou visie vir die maatskappy en die gemeenskap van Atlantis? Deur my lewe en loopbaan is ek gemotiveer deur die oortuiging dat ons wêreldwyd en in Suid-Afrika die middele het vir alle mense om goed en binne die drakrag van die planeet te lewe. Ek sien ons lewer ’n bydrae tot ’n beter toekoms – in Atlantis en in Suid-Afrika. Dit gaan alles oor die skep van werk en geleenthede as deel van die beweging na ’n volhoubare toekoms. Ek sien ’n toekoms vir Atlantis as ’n florerende en volhoubare bedryf-spilpunt, wat werk verskaf vir ’n groeiende en bemagtigde gemeenskap – en dat ons deur ons nywerheids-ontwikkeling daardie impak oor Suid-Afrika en Afrika heen kan maak.
Die ASEZCo-direksie verwelkom die aanstelling van Cullinan en het die grootste vertroue in sy vermoë om die span en organisasie na ’n beter, groener en suksesvolle toekoms te lei. Cullinan neem ná ’n lang en streng werwingsproses by dr. Pierre Voges as uitvoerende hoof van die AsezCo oor.


