Die voortslepende beurtkrag en kouer weer beteken meer mense gebruik gas en kerse, maar dit kan ook groot gevaar inhou.

Mei is Brand-bewusmakingsmaand, wat daarop wys dit is makliker om ’n brand te voorkom as om die gevolge daarvan te hanteer.

Brandwonde laat fisieke sowel as sielkundige gevolge, en veral kinders is kwesbaar.

Volgens die organisasie Child Safe doen gemiddeld 265 kinders in Suid-Afrika elke dag brandwonde op. Die organisasie waarsku kinders se vel is dunner as dié van grootmense, wat hulle meer vatbaar vir brandwonde maak.

Die Rooi Kruis-kinderhospitaal is die enigste gespesialiseerde eenheid vir pediatriese brandwonde in Afrika. Die hospitaal behandel elke jaar sowat 3 500 kinders weens brandwonde, van wie sowat 1 300 van dié ongevalle as ernstige brandwonde beskou word.

Brandwonde kan erger langtermyngevolge inhou.

Volgens die Wes-Kaapse regering is die hoofoorsake van brandwonde by kinders vlambare of kokende vloeistof, met 84% van dié soort brandwonde wat in die kinderhospitaal behandel word. Altesaam 85% van alle pasiënte is jonger as ses jaar.

’n Paar wenke om veilig te bly: . Koop ’n koordlose ketel. . Maak seker warm vloeistowwe, insluitend olie en pap, is buite die bereik van kinders. . Plaas kerse in ’n diep houer met sand sodat die vlam doodgaan indien dit omval. . Maak seker alle elektriese proppe en koorde is in ’n goeie toestand of herstel dit indien kaal drade uitsteek. . Sluit paraffien en ander vlambare vloeistof weg. . Noedels word verskriklik warm wanneer dit in die mikrogolfoond gemaak word. Maak seker die houer word versigtig hanteer. . Gooi eers koue water in wanneer jy ’n bad vir die kleinspan tap. Gooi dan warm water by en toets met die elmboog voordat hulle inklim.. Indien ’n brand ongelukkig uitbreek, tree onmiddellik op. As jou klere brand, stop, val en rol totdat die vlamme dood is. . In ’n geval waar elektrisiteit betrokke is, moenie aan iemand vat wat geskok het nie. Vat ’n stok of ’n voorwerp wat nie gelei nie om die pasiënt weg van die oorsaak te kry.. Onthou, die hitte van ’n brand bly agter, selfs nadat ’n mens weg van die vlamme, warm water of elektriese toestel is. Hou die liggaamsdeel wat gebrand het onder lopende koue water vir minstens 20 minute. Moenie ys of yswater gebruik nie – dit kan tot nog meer skade lei.. Moenie botter of enige ander olie-produk gebruik om brandwonde te behandel nie. Olie hou die hitte binne en dit kan ’n dieper brandwond veroorsaak.

“ ’n Brand-besering kan binne sekondes plaasvind, maar kan iemand se lewe vir altyd verander. Herstel is ’n lewenslange proses, wat lank ná ontslag uit die hospitaal voortduur, en rehabilitasie begin op dag een. Brandwonde raak nie net die slagoffer nie, maar ook die familie wat so iemand liefhet en ondersteun,” waarsku die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article