Russell Andrews het personeellede en leerders Woensdag 17 Mei as die hoof van Kerria Primêr gegroet.
Andrews, wat die posisie sedert 1 April 2014 beklee, is van 1 April vanjaar deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement as die nuwe Kring 10-bestuurder van Metro-noord-onderwys aangestel.
Andrews, wat as waarnemende kringbestuurder van 2022 tot 31 Maart 2023 waargeneem het ná Cheryl Allen se uittrede ná 41 jaar, het aan oudkollegas en leerders gesê dit is vir hom ’n hartseer dag om almal te groet.
“Ek was die skoolhoof by Kerria sedert April 2014 en is van 1 April as kringbestuurder aangestel. Die goeie nuus is ek sal steeds die skoolgemeenskappe in kring 10 dien.
“My boodskap aan julle is om altyd te werk om ’n beter lewe vir jouself en jou gemeenskap te bou. As ons kyk na die kernwaardes van ons skool, wil ek hê julle moet daardie waardes met die belangrikste eienskap – respek – handhaaf,” het Andrews benadruk.
Volgens Andrews sal jy altyd – mits jy selfrespek het – die beste vir jouself hê wat sal bepaal hoe jy ander mense behandel.
“Behandel jou klasmaats soos jou broers en susters; onderwysers soos jou ouers, ooms of tannies by die skool.”
Andrews het die leerders aangemoedig om groot te droom, wat sal bepaal dat hulle eendag hul doelwitte sal bereik en suksesvol sal wees.
Die oudhoof het afgesluit met die Kerria Primêr se leuse “Scientia Liberat”, wat beteken “Onderwys sal ons vry maak”, en leerders aangemoedig om hard te werk om sukses te behaal.
As waardering vir sy bydrae het die waarnemende skoolhoof, Phillip Alexander, ’n baadjie van die laerskool aan Andrews in die teenwoordigheid van sy vrou, Lynette, wat sy steunpilaar is, oorhandig.
Die gr. 1- tot gr. 7-onderwysers het Andrews geloof vir sy leiding en toewyding as hoof en gesê hoewel hulle ’n goeie leier verloor, hy hulle goed voorberei het en hulle sal bou op die goeie dinge wat hy agterlaat.
Andrews wat baie lief is vir koormusiek, is vir oulaas deur die skoolkoor vergas met die pragtige kinderstemme voordat hulle totsiens gesê het.
Alexander het Andrews geloof vir sy inspirasie en voorbeeldigheid, wat hy glo ’n groot invloed op onderwysers en leerders by Kerria se lewens gemaak het.
“En daarvoor is ons baie dank aan u verskuldig,” het hy gesê.





