Met die netbalwêreldbeker 2023, wat op 28 Julie in Kaapstad begin, het die Atlantis- plaaslike netbal-vereniging (APNV) ook hul plaaslike kompetisies Saterdag 6 Mei by die Wesfleur-sportterrein begin.

Netbalklubs het in die laaste paar maande aansienlik toegeneem met 12 klubs wat vir die 2023-seisoen ingeskryf het. Volgens Felicity Bailey, die vereniging se voorsitter, is dit ’n verbetering van vier klubs, terwyl een klub verhuis het.

Hoë reiskostes kniehalter spelers om na proefwedstryde in Bellville en Kaapstad te reis, en plaas groot druk op die vereniging, maar dit verhoed geensins dat gekeurde spelers van WP-proefwedstryde weggehou word nie.

Jong spelers het die APNV die afgelope paar seisoene trots gemaak met agt Erica-, vier WP-Disa- en twee SA o.19- ontwikkelde en twee WP senior spelers wat opgelewer is.

Karen Arendse, hoof van afrigting by die APNV se ontwikkelingspan, sê dit is dikwels moeilik om die kinders op die netbalbane te kry weens stygende vervoerkoste en bendegeweld.

“Atlantis het baie potensiaal, maar ons is gestrem aangesien skofwerk veroorsaak dat ons nie genoeg afrigters op streeksvlak het nie,” het Arendse gesê.

Met Weskus Nuus se besoek aan Wesfleurpark voorverlede Saterdag (13 Mei) het die o.15-wedstryd tussen Protea Propark en Starlights ondersteuners se aandag getrek. Starlights het Propark van die begin af met vinnige voetwerk en spoed onder druk geplaas en ’n voorsprong van 4-0 binne in net minute opgebou.

Hoewel Propark goeie teenstand gebied en ook ’n paar goeie doele behaal het, het hulle nie ’n teenvoeter vir die vlugvoetige Caren Human en Aqueela Veldsman gehad nie. Met die aanbreek van eerste periode het die twee spanne gaan water drink met Starlights 12-4 voor.

In die tweede helfte het Starlights die krane oopgedraai en Human en Veldsman het nog 11 verdere doele geskiet om die wedstryd 23-7 te beklink. As dit as maatstaf dien, word opwindende netbal gedurende die netbalwêreldbeker in Atlantis se plaaslike ligakompetisies verwag.

Die vereniging nooi oud-netbalspelers, afrigters en administrateurs om hand te kom bysit sodat die sport ook in die voetspore van rugby en sokker kan volg om nasionale sterre op te lewer, het Bailey aangespoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article