’n Tienermeisie moet nou in die hof verskyn nadat sy na bewering ’n fetus in ’n vullisdrom versteek het.
Die 18-jarige ma het Maandag 22 Mei die eerste keer in die plaaslike landdroshof verskyn nadat sy enkele ure ná die gru-ontdekking in die Avondale-woonbuurt in hegtenis geneem is.
Anastatia Davids, ’n plaaslike raadslid, sê dit is ’n hartseer saak, want met die pyn van die beskuldigde se verlies en die omstandighede wat daartoe gelei het, moet sy nou ook die wet in die gesig staar.
Davids voeg by soveel hulp en bystand is vir swanger tieners beskikbaar en sy hoop die tiener sal ook die nodige bystand deur die proses ontvang.
“Opvoeding oor tienerswangerskappe is orals. ’n Mens weet nooit regtig wat deur tieners se gedagtes gaan nie, veral as hulle in vrees lewe en te bang is om met vriende en familielede oor persoonlike dinge te praat.
“Ek hoop dié tiener kry die nodige ondersteuning, want dit is ’n traumatiese ervaring vir enige vrou – veral op daardie jong ouderdom,” sê Davids.
Sy voeg by in die huidige samelewing verduur tieners baie, wat daartoe lei dat hulle te bang is om enigiemand te vertrou. Sy vra inwoners om na die hulpkrete van tieners te luister en sê tieners moenie huiwer om hul onderwysers, kerkleiers en personeel by klinieke en hospitale vir hulp te vra as dit nie by die huis beskikbaar is nie.
Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie was Vrydag 19 Mei na die toneel in Lakeman-singel en ondersoek tans ’n saak van verberging van ’n fetus.
Vrydae is ook die dag wat die vullisvragmotor die vullisdromme in die Avondale-gebied kom leegmaak.
Die fetus, wat in ’n oranje handdoek toegedraai is, is na bewering deur mans wat deur die vullis gegaan het op soek na kos en ou goed, gevind. Hulle het alarm gemaak en voordat die vragmotor nog sy rondes kon voltooi, is die straat waar die fetus gevind is, in ’n misdaadtoneel verander.
Die polisie vermoed dit is ’n sewe maande oue fetus en dat die beskuldigde die seuntjie se fetus kort nadat inwoners die dromme uitgesit het, daarin kom versteek het.
Die straat se inwoners sit hul vullisdromme enige tyd van voor 07:00 soggens uit, dus word vermoed die fetus is min of meer daardie tyd in die drom gelaat.
Die wyksraadslid Allister Lightburn sê hy is geskok oor die voorval en wil graag jong vroue wat in onbeplande swangerskappe vasgevang word, aanraai om eerder ander opsies te oorweeg indien hulle nie die baba wil hou nie.
Lightburn sê aanneming is een daarvan en noem jong vroue kan met die departement van maatskaplike ontwikkeling en ander organisasies wat hulp aan swanger tieners verleen, daaroor in verbinding tree. “Die wet moet sy gang gaan sodat dit ’n sterk boodskap kan uitstuur dat hierdie euweldade nie geduld word nie,” sê Lightburn.


