Ná die uitstel van die Prelim- eersteronde-wedstryde van die 2023- SAFA Cape Town Peninsula Beverages Coca-Cola-amateurbeker tot Sondag 28 Mei in Dunoon het die opwindende SAFA-Kaapstad-Coca-Cola-beker met skitterende sokker vir jeug-, vroue- en senior spanne op die Dunoon-sportterrein afgeskop.
Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se Kaapstad-streek bied die Coca-Cola-beker die 22ste keer aan en vuurwerke soos min kan verwag word.
Verlede jaar het die UK-vrouesokkerspan die Heideveld Female Football Academy (HFFA) met 2-1 in die vroue-afdeling verslaan, terwyl Cape Town City as die kampioene gekroon is ná ’n 3-1-oorwinning oor sy aartsvyande Ubuntu Football Academy in die o.18-afdeling. Diadora FC is as die senior mans- Coca-Colabeker-kampioen gekroon ná sy sege van 2-0 oor Clover van Mandalay.
Die vraag op almal se lippe is wie gaan op 14 Oktober in die Athlone-stadion as die o.18-seuns-, vroue- en mans-kampioene vir 2023 gekroon word?
Jomo’s Power se o.18-seunspan van Atlantis, wat onlangs aan die 2023- Roger Clayton-premierbeker vir o.19-spanne deelgeneem en net-net in die plaatfinaal in Athlone verloor het, het as gasheer teen Jordan Callies van Rygate opgetree.
Jomo’s Power AFC en Jordan Callies het vir territoriale oorheersing geveg, met Jomo’s wat net-net bo uitgekom het. Hoewel CJ van Zyl die eerste doel vir Jomo’s aangeteken het, het swak oordeel aan beide kante en ’n nat oppervlakte beide spanne se spel belemmer.
Jomo’s het in die eerste helfte gesukkel en heelwat foute in die middelveld begaan, wat Callies in staat gestel het om daaruit munt te slaan om ’n maklike strafskop kort voor rustyd vir ’n 1-0-voorsprong aan te teken. Jomo’s het egter ná rustyd teruggeveg om die telling gelyk te maak toe CJ van Zyl sy span se eerste doel aangeteken het.
Callies het Jomo’s Power AFC uitoorlê en net goeie doelwagterspel deur Monray Doty het die span daarvan weerhou om doele aan te teken, maar die onvermydelike het in die 50ste minuut gebeur toe Doty ’n oordeelsfout begaan het, wat Callies in staat gestel het om ’n skitterende doel vir ’n 2-1-voorsprong te skiet.
Jomo’s het Callies se doelhok die laaste vyf minute van die wedstryd op soek na die gelykmaker aangeval.
Van Zyl se tweede hoekskop het Alonso Williams gevind en die bal in die net gerol, waarna die wedstryd met 2-2 na strafdoele geneem is.
In die strafdoeluitskoppe het Doty twee briljante doele in die doelhok gekeer om die wedstryd in Jomo’s Power AFC se guns met 4-2 te beklink.





