Twee skieters het hulle Sondag 11 Junie in ’n ware geregsdienaar vasgeloop toe dié polisieman, wat nie aan diens was nie, hulle minute ná ’n skietvoorval aangekeer het.
Volgens ’n betroubare bron was die speurder meters weg van waar twee jongmans pas ’n 19-jarige in Rozettastraat doodgeskiet en nog iemand gewond het.
Die twee skieters het te voet van die toneel af gevlug, maar is deur die polisieman agternagesit.
Die twee skieters het die moordwapen in ’n kerk se erf gegooi.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is die twee op die hoek van Sun Road en Palmerlaan aangekeer. Munro het bevestig die twee verdagtes het glo ’n man in die gebied doodgeskiet en gesê die polisie se misdaadvoorkomingseenheid was gou op die toneel om die speurder by te staan.
Die bron sê die polisielid werk nie in Atlantis nie, maar kom van Atlantis.
Die verdagtes het reeds in die plaaslike hof verskyn en is steeds in aanhouding.
Volgens kol. Cyril Nkuna, stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, is dit duidelik ’n teken dat die lid lojaal in sy werk is en het homself “aan diens geplaas” deur die skieters agterna te sit.




