Jolan en Anette Conradie van Edinburg verwyt hulself vir klein Ezra se dood en sê hulle moes hom nooit laat gaan het nie.Foto: Murphy Roberts


Die stiefpa van die vermoorde Ezra Finck is weer agter tralies.

Mzee Shabani en Lee-Ann Finck sal nou saam aangekla word van die moord op die destyds sewejarige Ezra, wat in September 2015 in hul woonstel in São Paulo in Brasilië vermoor is. Die seun se liggaam is in ’n vrieskas gestoor voordat die paartjie met hul twee dogters uit die land gevlug het.

Ezra, wat voor sy dood by Lee-Ann se tante en oom in Atlantis gewoon het, is destyds deur sy ma onder vermoedelik valse voorwendsels na Brasilië gelok.

Jolan en Anette Conradie van Edinburg verwyt hulself vir Ezra se dood en sê hulle moes hom nooit laat gaan het nie. Hulle sê Ezra, wat net die skoolvakansie by sy ma en stiefpa sou kuier, het egter nooit teruggekom nie en sy liggaam is later deur die polisie ontdek. Die paartjie, wat in Shabani se geboorteplek – Tanzanië – deur Interpol in 2016 aangekeer is, is terug in Brasilië. Finck het egter destyds volhard dat haar kêrel en stiefpa van klein Ezra nooit by die moord betrokke was nie.

Shabani het ook destyds aan regters in Brasilië gesê hy het op dié noodlottige dag hul twee dogtertjies by die voorsorgskool gaan haal toe Finck die misdaad gepleeg het.

Die hof het destyds sy alibi aanvaar, maar hy mag toe nie die land verlaat terwyl Finck in aanhouding gebly het nie. Die staat se appèl teen Shabani se vrylating in 2017 was suksesvol omdat hulle geglo het Finck kon nie die misdaad alleen gepleeg het nie. Regter Debora Faitarone het in haar appèluitspraak in Junie gesê die hof is oortuig dat Shabani wel by die moord betrokke was en het gelas dat hy weer aangekeer word. Volgens die regter is die destyds sewejarige Ezra wreed vermoor, en daarom glo sy Shabani was wel betrokke. Die twee sal nou aangekla word van die moord van klein Ezra en ook die verberging van ’n liggaam.

Volgens Ariel de Castro Alves, ’n menseregteprokureur en aanklaer in São Paulo, was die vermoede die ma kon nie die daad alleen uitgevoer het nie. Ezra is vermoedelik vermoor omdat hy glo nie sy kos wou eet nie. Die aanklaer sê die verhoordatum sal deur die hof bepaal word en indien die twee skuldig bevind word, kan hulle 30 jaar tronkstraf opgelê word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article