Sharon Lombaard (Proteus-netbalafrigter), Carin Human (Wes-Kaap-netbalkleure), Shawndre Julius (Saxonsea), Brooklyn Heyns (WP-netbalkleure) en Amelia Mulli (Saxonsea-afrigter).Foto: David Rossouw


Atlantis-skole het by die afgelope primêre en sekondêre netbalproewe twee Wes-Kaapse en een Westelike Provinsie-netbalspeler vir 2023 in die o.12- en o.14-afdelings opgelewer.

Kay-Leigh Buys van Saxonsea Primêr het die keurders met uitmuntende spel in die finale proewe vir meisies o.12 met haar spel beïndruk. Hulle het geen keuse gehad as om haar ná haar goeie vertonings vir die WP- en Wes-Kaapse o.12-netbalspan te kies nie, wat ’n trotse prestasie vir Saxonsea Primêr is.

“Ek is baie bly dat ek die spanne gehaal het en ek wil net baie dankie sê vir my afrigters by Saxon Blues en Saxonsea Primêr. Dankie vir my ouers en spanmaats wat my gereeld ondersteun,” het Kay-Leigh gesê.

Caren Human van Proteus Hoër Tegniese Skool en Brooklyn Heyns van Saxonsea Sekondêr is ook in die Wes-Kaap-netbalspanne vir die winterspele gekies.

“In die begin was ons baie senuweeagtig en het net versigtig gespeel om so min as moontlik foute te maak, maar die rusperiode het ons kalmeer want ons het geweet dit is ons laaste kans as ons die o.14 WP- of Wes-Kaap-netbalspan wou haal,” meen hulle.

“Die senuwees het behoorlik geknaag nadat die finale proefwedstryde agter die rug was, omdat die finale spanne direk ná die proewe aankondig is,” het Brooklyn bygevoeg.

“Die grootste probleem wat die spelers ervaar, is dat Atlantis-skole nie die geriewe het wat die Kaapse skole het nie, maar steeds gewys hulle kan saam met die bestes meeding,” het Sharon Lombaard, Caren se afrigter by Proteus, gesê.

Caren het as jong meisie netbal by die Starlights-netbalklub begin speel en onder die wakende oog van Jacky Europe goeie vordering gemaak.

“Op skoolvlak is dit ook net so mededingend as op klubvlak,” het sy gesê. Brooklyn voeg by haar belangstelling het ontstaan toe hulle in die klas moes vertel watter sportkodes hulle graag sal wil speel.

“Toe ek besluit om netbal te probeer, het ek daarvan begin hou hoe meer ek gespeel het. My insluiting in die WP-uitnodigingspan het my laat besef ek kan die WP-netbalspan haal as ek my spel verbeter. My vriende by die skool moedig my altyd aan om net my beste in wedstryde te lewer.

“My insluiting in die WP-span was my eerste mikpunt, en ek het dit met die ondersteuning van my afrigter, skool en ouers reggekry. Noudat ek my eerste mikpunt bereik het, is my volgende mikpunt om die Wes-Kaap-span volgende jaar te haal,” het Brooklyn verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article