Ons het een van die natste Julie’s op rekord gehad.
Dit is goeie nuus vir die damvlakke in die Wes-Kaap wat nou amper 100% vol is, maar dit is ook ’n bekommernis omdat hierdie uiterste weertoestande al hoe meer algemeen voorkom.
Die toestande weerspieël die groeiende negatiewe impak van menslike aktiwiteite op die klimaat en omgewing. Om klimaatsverandering en die impak daarvan op mense aan te spreek moet ’n prioriteit wees. Dit lê in die kern van die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (Asez) se bedryfsfilosofie, wat uit drie dele bestaan.
Die eerste gaan oor die vermindering van koolstofvrystellings. Koolstofvrystellings word geskep wanneer ons enigiets verbrand wat afkomstig is van olie, steenkool of aardgas – waarskynlik die duidelikste is die dampe wat uit ’n motorvoertuig-enjin kom wanneer ons die petrol of diesel verbrand om die enjin aan te dryf. Maar hulle kom ook van ons groot steenkoolkragsentrales wat die meeste van ons elektrisiteit voorsien.
Die tweede gaan oor hulpbron-doeltreffendheid. Water is ’n kritieke hulpbron. Die Wes-Kaap is ’n waterskaars-streek (moenie dat die vol damme jou laat glo dat water nie ’n probleem is nie – dit sal ’n groter uitdaging as energie in die toekoms wees). Ons moet seker maak dat ons almal so min as moontlik water gebruik. Dit is veral belangrik in ’n nywerheidsgebied soos Atlantis. Sommige soort nywerhede of vervaardigingsprosesse gebruik groot hoeveelhede water.
Die Atlantis SEZ sal so min moontlik water gebruik en die water wat ons wel gebruik, moet behoorlik skoongemaak en (verkieslik) hergebruik word. Wanneer ’n belegger of huurder inteken, moet hulle hulself daartoe verbind om met ons saam te werk om te verseker dat dit gebeur.
Die derde deel is om te verseker dat die gemeenskap by die voordele van groen groei en ontwikkeling ingesluit word. Dit gaan daaroor om te verseker dat hulle vaardighede het en werk kan kry en ook om hul eie besighede te bou.
Die Atlantis SEZ werk in vennootskap met ander organisasies om te verseker dat vaardighede en ondernemingsontwikkelings-programme werklike waarde bied. Enigiemand wat die Atlantis-gemeenskapskoerante lees of na Radio Atlantis luister, sal weet van sommige van die programme wat ons aanbied.
Ek het begin deur te praat oor die impak van menslike aktiwiteit op die klimaat en omgewing en die uiterste weer gebeurtenisse wat ons ervaar. Hoe ons hierdie uitdagings hanteer, hang af van hoe ons vir die toekoms bou.
Om vir die toekoms te bou gaan oor die vind van alternatiewe vir die verbranding van koolstof (om koolstof-nul te wees), dit gaan daaroor om hulpbron-doeltreffend te wees en dit gaan daaroor om saam te werk om oplossings vir ons gedeelde uitdagings te vind.
Dit is nie ’n maklike pad nie, maar dit is die beste – dalk die enigste – manier om te bou aan ’n positiewe toekoms vir almal.
Tot volgende keer,
Matt




