Janine Passenz van Survivors Haven sê vroue moet elke dag beskerm word. Foto: Verskaf


“Dit maak my gelukkig as ek vroue – of mans – kan help, maar dit maak my hartseer as ek sien hoe ons mense moet ly.”

Só vertel Janine Passenz, wat die afgelope drie jaar op die voorpunt vir vroueregte getree het en nie skroom om haar stem te laat hoor nie.

“Met die ingang van Vrouemaand raak ek baie emosioneel,” vertel dié kampvegter, wat veral slagoffers van verkragting en mishandeling bystaan. “Elke maand is Vrouemaand – ons kan nie net wag vir Augustus om mense te help nie,” meen sy.

Passenz het WeskusNuus vertel waar haar passie vandaan kom.

“Ek was jare lank by gemeenskapswerk betrokke en het as vrywillige werker by Lief en Leed in Mamre begin. Ek wou altyd deel wees van ’n vrouestigting totdat ek in 2020 die nood om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te ondersteun, besef het.

“Ek het die organisasie Survivors Haven met ander, wat my passie deel, begin en van daar af het ons van krag tot krag gegaan. Ons het nie altyd die nodige hulpmiddels nie, maar dit keer ons nie,” vertel sy.

“Ek self was ’n slagoffer van seksuele aanranding. Ek weet presies hoe dit voel as jy alleen is en nie die prosesse verstaan nie. Ek weet hoe dit voel as jy wil opgee met hofsake, omdat die pad eensaam en intimiderend is. Ek het besef hoekom vroue nie altyd met hofsake voortgaan nie en het besluit om hulle te ondersteun.”

Sy sê baie mense – veral vroue – wil dikwels nie praat oor die misdrywe wat met hulle gebeur het nie. Passenz sê dit is ongelukkig ook hoekom oortreders vry uit die hof stap. “Vroue moet weet om die slagoffer van verkragting, mishandeling of aanranding te wees, is nie ’n skande nie. Ons kan dit nie langer duld of stilbly omdat ons lief is vir iemand nie. Dit gee niemand die reg om ons so te behandel nie. Ons as vroue moet ons stem laat hoor sodat oortreders kan weet hoe ons voel,” meen sy.

Volgens Passenz het Survivors Haven oor die afgelope drie jaar baie mense ondersteun. “Ons het al so baie vroue asook mans gehelp met ondersteuning en verwysings. Iets wat altyd my gelukkig maak is wanneer vroue opstaan as slagoffers en as oorwinnaars uitstyg.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article