Ná byna agt jaar is sy boek nou beskikbaar, spog die 73-jarige Herbert Arendse.
“Ek is baie dankbaar dat ek nog gespaar word om die oomblik met almal te kan deel,” het ’n emosionele Arendse by die bekendstelling van sy boek Mamre vanaf 1652 gesê.
“Dit was nie altyd maklik nie, maar ek het nooit opgegee nie,” het Arendse aan sy gaste gesê. Die boek is Saterdag 29 Julie aan verskeie gaste bekendgestel.
“Terwyl baie oor die jare meer oor Mamre wou weet, het ek besluit om die geskiedenis van my geboorteplek saam te stel,” vertel hy.
Die boek handel oor die geskiedenis en ontstaan van Mamre en sy mense.
“Ek het oor die jare baie foto’s en inwoners se verhale oor die dorp saamgestel. Ek het in 2015 besluit die tyd is nou reg om die inligting met die wêreld te deel en vandaar het my reis met Mamre vanaf 1652 begin,” vertel hy.
Oom Herbert sê hy het die boek in 2020 na Dr. Pick geneem vir sy mening, “en daarna was daar ook baie vreugde, hartseer en trane”, vertel hy.
“Die boek, wat 100 persent Mamre is, het daarna na verskeie uitgewers gegaan en daar was ’n tyd wat ek byna opgegee het, maar vandag is ek trots.
“Ek het my opvoeding by Mamre Morawiese Laerskool gehad en ná skool het ek by verskillende instansies in en om Kaapstad gaan werk, waar ek my basiese ondervinding opgedoen het, soos die druk van etikette by Fair Weather House in Woodstock en die bou van sement-, klei- tot strooibaal-huise. Ek het by ou garde in Mamre geleer hoe om kleistene en kleipleistermengsels te maak,” vertel hy trots.
Arendse het in 1985 begin met instandhoudingswerk by die Morawiese kerk hier en dit is ook waar die gogga hom gebyt het oor die geskiedenis van Mamre, want daar is geskrewe geskiedenis van die werf en nie die dorp nie. “Ek het met die ou garde van Mamre gesels oor die geskiedenis en oor die jare merkwaardige stories gehoor,” meen hy.
“Soos die jare verloop het, het skoolkinders van Mamre, Atlantis en selfs Melkbos inligting oor Mamre se geskiedenis kom soek, waarby ek van hulp kon wees,” vertel hy trots.
“Ek het toe tot die besluit gekom om die geskiedenis van Mamre te boekstaaf. As ek dit nie gedoen het nie, sal die geskiedenis en al die ou foto’s van Mamre verlore gaan,” vertel Oom Herbert.
Die boek is beskikbaar by Arendse se woning, Hoofweg 54, Mamre, of kontak hom by 084 326 4005 of WhatsApp Ashley Arendse by 072 483 8453.
Die boek kos R250.





