Die Atlantis-rugbyklub se lot is nou in sy eie hande. Die span van Dennifer “Boelie” Solomons het Saterdag teen Strand in die top-nege vir promosie na die Westelike Provinsie C-liga vasgeval.
Atlantis, wat eenvoudig die wedstryd moes wen, kon egter nie die wa in die wegwedstryd deur die drif trek nie.
Strand, wat rustyd 15-7 voorgeloop het, het die naelbytstryd 23-19 gewen.
Atlantis, wat in die eerste helfte glad nie gespeel het soos ’n span wat die hele seisoen alle teenstand uit sy pad gevee het, het egter sy ritme in die tweede helfte gevind.
Boelie se troepe het met aanvallende spel en rotsvaste verdediging die neus voor gekry tot ongeveer ses minute oor.
Strand, wat reeds voorheen in Superliga C gespeel het, het ook die besoekers gewys dat hulle wil terug na die liga, en Atlantis, wat in die laaste paar minute alles in die stryd gewerp het, het wel sy kanse gehad om die wedstryd te verseël.
Met net minute oor en die troepe van Boelie met ’n wil-nie-opgee-gees met ’n enkele punt voor, het die tuisspan egter verseker dat Atlantis nou twee wedstryde verloor en twee gewen het.
Atlantis was in sy groepfase onoorwonne, maar is egter nou vierde op die top-nege-punteleer en sal sy oorblywende wedstryde moet wen om na ’n hoër liga te skuif. . Maak oop die hekke – hier kom Mamre se groen truie aan!
Mamre het Saterdag in ’n wegwedstryd teen Piketberg volpunte behaal in hul Grootuitdaagreeks-wedstryd, wat die groen truie nou binne bereik van die streekstitel plaas as die span van Kenny Stadler met Vredenburg Saterdag en hul laaste wedstryd teen St. Helenabaai kan wen, met die hoop dat die kampioen Saterdag teen die Agterbaai vasval en nie twee punte uit die wedstryd kry nie.
Mamre, wat twee punte uit hul oorblywende twee wedstryde moet kry om vir die top-12 te kwalifiseer, sal dit vir seker teen Vredenburg se Burg Boys wil regkry. . Young Hearts het Hopefield op die grafkelder met 37-22 getroef. Ruben Abels en sy troepe het nog drie wedstryde oor en kan ook nog ’n plek opskuif indien hulle volpunte in al drie wedstryde kry en die Agterbaai geen punte in hul oorblywende wedstryde kry nie. Hamlets het Saterdag 18-25 teen Tygerberg vasgeval.
Volledige uitslae. Weskus: Vredenburg 15-34 Saldanha, Piketberg 27-38 Mamre, Langebaan 38-37 Velddrif, Paternoster 64-0 Koringberg, Young Hearts 37-22 Hopefield.. Swartland: Wesbank 40-31 Moorreesburg, Saron 45-49 Darling, Goodhopes 51-28 Riebeeck United en Porterville 22-27 Never Despairs.




