Die Avondale se VGKSA-gemeente het ’n nuwe herder nadat die gemeente byna vier jaar herderloos was.
Ds. Shaneeze Dilgee, oorspronklik van Lavender Hill, is deur die gemeente aangestel. Die gemeente het nie net ’n nuwe dominee aangestel, maar het ook geskiedenis gemaak om hul eerste vroulike dominee hier aan te stel.
Die avontuurlustige dominee vertel: “Ek het voorheen ’n loopbaan as ouditeer gehad en na 20 jaar het ek besluit om van beroep verander om voltyds in die bediening te gaan.
“Ek het in 2016 by die Universiteit Stellenbosch gaan studeer en het my teologiese studies in 2021 voltooi.”
Sy sê die roeping kom van haar passie vir haar medemens. “Ek wou altyd ’n verskil in mense se lewens maak en nou is ek gereed om nie net my gemeente te lei nie, maar wil beslis ’n impak op die breër gemeenskap maak.”
Die gemeente vier ook vanjaar ’n besonderse mylpaal met sy 45ste bestaansjaar.
“Ek het ’n baie streng kant en hou daarvan om die regte ding te doen, maar meer belangrik is die respek en hoë agting vir my medemens. Ek het ’n positiewe uitkyk op die lewe en met die persoonlikheid wat God my gegee het hoop ek om ’n impak op die breër gemeenskap te maak.”
Die dominee sê sy is gaande oor die buitelewe en stap gereeld, luister graag na musiek en is gek oor sport.
Die gemeente van Atlantis het ’n ryk geskiedenis van Augustus 1978 tot nou. Die gemeente was deur die jare ’n baken van hoop vir talle lidmate wat die kerk hul geestelike tuiste gemaak het, sê Dilgee. Kerk-wees is hul eerste prioriteit, maar die breë gemeenskap van Atlantis, en in besonders Avondale, word ook bedien, want die gemeente lewer ’n gesondheidsdiens waar mense hul medikasie elke Dinsdag tussen 08:00 en 12:00 by die kerk kan kom afhaal.
Hoewel die kerk sonder ’n leraar was, sê Dilgee die hoop en geloof van die kerkraad en gemeentelede beteken hulle het nie beskaam gestaan nie. “Geloof in God en gebed het die lot van die gemeente van VGKSA Atlantis verander.”



