“Hierdie land sal nie val nie, want dit is mense soos julle wat daarvoor sal sorg.”
Só meen Quinten Adams, ’n opvoedkundige sielkundige van Schack Builder. Adams was die spreker by ’n geleentheid van die plaaslike Afrikaanse Taalkultuurvereniging (ATKV).
Die ATKV beywer hom al langer as 93 jaar vir die Afrikaanse taal en kultuur van Afrikaanssprekende gemeenskappe, asook nasiebou vir ’n suksesvolle Suid-Afrika. So ook beywer die ATKV-tak van Atlantis hom die afgelope agt jaar met opheffingswerk in die Atlantis-gemeenskap deur projekte en programme vir oud en jonk aan te bied.
Die ATKV-tak van Atlantis hou met die fokuspunt op gemeenskapsbou, omgewingsbewaring en verbintenis met die gemeenskap ’n Sprankelvrou-tee- byeenkoms op 28 Oktober by die Saxonsea-gemeenskapsaal in Atlantis.
Om plaaslike programme en gemeenskapsprojekte aan te bied, moet genoeg mannekrag en finansiering beskikbaar wees om dit suksesvol te maak verduidelik die organisasie. Die Sprankelvrou-tee-byeenkoms se doel is om geld vir die ATKV-tak van Atlantis in te samel om sodoende meer opvoedkundige programme en uitstappies vir kinders en ander gemeenskapsprojekte in 2024 aan te bied, wat regstreeks in die gemeenskap teruggeploeg word.
Die tak bied die afgelope vier jaar ’n leesprogram vir kinders, wat ’n leesbehoefte het, aan en is onlangs by die jaarlikse ATKV-byeenkoms vir takke by Goudini Spa met ’n verdienstelikheidsertifikaat vir uitmuntende werk in hul gemeenskap vereer. Lees is een van die opvoedkundige programme wat ná skool aan kinders wat ’n leesbehoefte het, aangebied word.
Mense sal altyd ’n behoefte hê om met mekaar te gesels en te kuier, en dit kan net die ideale geleentheid wees om op 28 Oktober by die Saxonsea-gemeenskapsaal in Atlantis saam met die ATKV-tak van Atlantis te kom kuier, nooi die organiseerders. Wie weet – jy kan dalk net iemand ontmoet wat jou inspireer?
Rig navrae aan die ATKV-tak van Atlantis by 078 148 0020 of stuur e-pos aan connie.donkerman261@gmail.com




