Tanya en Angelo Fagodien wys die ernstige besering aan hul seun Akkeem se been. Foto: Murphy Roberts


Terwyl haar kind se lewe verwoes is nadat hy deur ’n roekelose bestuurder omgery was, raak die ondersoekbeampte glo kwaad as sy navrae doen.

Tanya Fagodien, die sesjarige Akkeem se ma, vertel hul lewe het op 28 Februarie verander toe Akkeem deur iemand bekend aan almal in die pad, omgery is.

“My kind het by sy ouma gespeel toe hy iets in die pad wou optel. Die bestuurder van die voertuig, wat gereeld in die pad af jaag, het my kind omgery en nog ’n paar meter ver gesleep terwyl hy onder die bakkie vasgesit het.”

Tanya sê omstanders het vertel die bestuurder het net uitgeklim, na die kind gekyk en toe van die toneel af weggery. “Hy het gevoelloos toegekyk terwyl my kind van die pyn gegil het en besluit om te loop,” meen sy. “Omstanders het my kind opgetel en sy pa het met hom hospitaal toe gehaas.”

Sy vertel emosioneel haar kind het reeds sewe operasies en drie veloorplantings ondergaan.

“My man moes ook sy werk los om na die kind om te sien. Wat egter die meeste pla, is die manier hoe ons as familie deur die polisie behandel word.

“Almal weet wie die bestuurder op die dag was, maar agt maande later is die getuieverklarings nog nie geneem nie,” vertel die familie.

“Ons ken die seun en sy familie wat my kind se lewe verwoes het. Hulle woon in dié pad, maar tot vandag was nog nie een hier om te kyk hoe dit met hom gaan nie.”

Sy vertel dokters wou haar kind se voet afsit, maar kon dit uiteindelik red.

Akkeem sal glo nooit aan sport kan deelneem nie en sal nou vir die res van sy lewe ’n gebrek hê, vertel sy ma.

Die ouers sê ook Akkeem het sedert die raakryery baie verander. “Hy skree en gil in sy slaap terwyl ons net moedeloos kan toekyk. Hy het vanjaar skool begin en het sowat vier maande in die hospitaal deurgebring.”

Tanya vertel hulle het ook versoek dat die saak na ’n ander speurder oorgeplaas moet word, maar sonder sukses.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, word ’n klagte van roekelose bestuur ondersoek. Sy bevestig niemand is in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article