Die brandseisoen is hier en in twee dae het 23 gesinne in Witsand alles verloor.
Volgens die wyksraadslid Moosa Raise is dit onbekend wat die oorsaak was van die jongste brand, wat 18 gesinne dakloos gelaat het.
Hoewel geen beserings ná die brand Saterdagaand 21 Oktober aangemeld is nie, is inwoners se wonings in puin gelê. Raise maan met die somer wat nou vinnig aanbreek, moet inwoners in informele nedersettings versigtiger wees vir brandgevare.
Carl Pophaim, die Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir behuising, het die toneel saam met Raise en Allister Lightburn, die subraad 1-voorsitter, besoek. Pophaim het slagoffers verseker dat die Stad alles in sy vermoë doen om hulle te ondersteun. Volgens Pophaim verhoed wetgewing hulle egter om inwoners soos voorheen met boumateriaal by te staan. Die burgemeesterskomiteelid het gesê hulp moet nou eers by die nasionale regering gevra word, wat die proses in “die meeste gevalle” vertraag.
“Inwoners sukkel reeds om hul verliese te verwerk en voel dan raadslede faal hulle,” het hy gesê.
Volgens Lightburn is dit wat gebeur het, tragies, maar dit is ’n bewys dat inwoners versigtiger moet wees – veral omdat die brandseisoen nou begin het.
Hy het inwoners ingelig dat die Stad ongelukkig nie kan help met die herstel van elektrisiteit nie, omdat die elektrisiteit-toevoer in die gebied direk onder Eskom val.
Raadslede het inwoners egter verseker die Stad se verskillende departemente is reeds gereed om inwoners wat alles verloor het, by te staan. Omstanders op die toneel het aan Weskus Nuus gesê “ ’n tikkop” het waarskynlik die brand veroorsaak.





