Karen Brown – landloopafrigter vir die 2023- Wes-Kaapse meisiespan.Foto: David Rossouw


Karen Brown, of “Coach Brown”, soos sy onder skoolkinders bekendstaan, het in die afgelope skoolvakansie ’n mylpaal bereik toe sy die eerste vroueafrigter van Atlantis-skole geword het en vir die Wes-Kaapse landloopspan vir meisies, wat op 30 September in Limpopo plaasgevind het, aangestel is.

Sover vasgestel is, is dit die eerste keer dat Atlantis-skole ’n vroue-landloop-afrigter uit die dorp oplewer.

Volgens Brown was die kampioenskapsbyeenkoms in Limpopo baie straf vir die atlete omdat hulle net twee dae gehad het om by die toestande aan te pas.

“Onder die omstandighede het ons span goed vertoon en een nasionale kampioen in die o.13-afdeling vir meisies opgelewer, met ’n goue medalje, twee silwer- en een bronsmedalje, waarop ons trots,” het sy gesê.

Brown het in 2011 met atletiekafrigting by Avondale Primêr begin en haar harde werk van die laaste 12 jaar het gewis tot haar sukses bygedra, aangesien sy in dié tydperk twee kampioene – een provinsiaal en een nasionaal – opgelewer het.

As onervare jongmens met geen ondervinding nie het sy in 2011 as afrigter nie geweet wat op haar wag nie, maar haar liefde vir atletiek was haar groot dryfveer en dit het haar aangespoor om as afrigter goed te vaar, het Brown aan Weskus Nuus verduidelik. “Aan die begin was dit moeilik, want ek het geen ervaring gehad nie en ek moes eers my voete vind om saam met die atlete te werk.”

Brown het egter later by Grosvenor Primêr aangesluit en kennis gemaak met die voormalige Boland-hoogspringkampioen Daniel Orange.

“Die ondersteuning wat ek van Daniel, wat ’n gesoute afrigter is, ontvang het, was baie waardevol vir my, en sy inspirasie en motivering het baie tot my atlete se prestasies bygedra.”

Haar span het by die afgelope nasionale kampioenskap in Limpopo ’n nasionale kampioen opgelewer, en Brown voel baie opgewonde daaroor. “Om saam met die provinsie se topatlete te werk, is ’n droom vir enige afrigter, omdat hierdie atlete reeds goed gekondisioneer en geslyp is.”

Volgens Brown speel ’n positiewe gees in ’n positiewe liggaam ’n groot rol by enige atleet se prestasies.

“ ’n Afrigter moet te alle tye sy atleet se belange eerste stel en ook ’n goeie verhouding met ’n atleet en sy ouers handhaaf en gefokus bly op sy einddoel, en dit is om ’n atleet te ontwikkel sodat hy of sy op ’n hoë vlak goed kan meeding om te presteer.

“Wie weet, hierdie atlete volg dalk net eendag in die voetspore van ’n Wayde van Niekerk of ander top- Suid-Afrikaanse atlete,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article