Die Atlantis Baggy Blues het Saterdag (11 November) na Bellville-Suid gereis om die tuisspan in sy agterplaas aan te durf.

Bellville-Suid het die loot gewen en verkies om eerste te boul en die Baggy Blues ingestuur om te kolf.

Die Baggy Blues het die vorige week (Saterdag 4 November) op Robinvale Oval in ’n ligawedstryd teen Blue Downs vasgeval, maar Sondag 5 November het hulle na Kensington gereis om die tuisspan in ’n AMA 20- wedstryd aan te durf, uitstekend gevaar en met ses paaltjies geseëvier.

Die kaptein, Justin Rooibaadjie, het teen Bellville-Suid die beurt saam met J. Whites begin, maar Whites was gou terug in die kleedkamer om te gaan stort toe hy deur Richard Witbooi vir net 2 lopies van 12 balle been voor paaltjie betrap is.

Met L. Damonse se toevoeging het hy en Rooibaadjie die lopietempo aangejaag voor Damonse vir 16 van Stevan Anthonie se boulwerk uitgevang is.

Die Baggy Blues-kolwers het met ’n onvoorspelbare blad vasgeskop op ’n kolfblad waar dit nie maklik was om lopies aan te teken nie.

Behalwe Rooibaadjie se ankerbeurt van 36 lopies het vyf ander kolwers ook dubbelsyfers behaal en gehelp dat die Baggy Blues ’n skaflike telling van 146 op die telbord kon plaas voor Bellville-Suid hulle binne 23 boulbeurte uitgeboul het. Die tuisspan het geweet dat dit nie maklik gaan wees om 147 lopies aangeteken te kry nie.

Met Christopher Links en Franklin Sampie aan die stuur van die Baggy Blues se boulers het hulle vanuit die staanspoor seker gemaak dat Bellville-Suid nie die teiken van 147 lopies vir ’n oorwinning bereik nie.

Bellville-Suid is vir ’n skamele 92 lopies uitgeboender, wat aan die Baggy Blues ’n oorwinning van 57 lopies besorg het.

Met dié oorwinning het die Baggy’s nou na die agste posisie opgeskuif en gewys dat hy goeie vordering maak.

“Daar is nog ’n lang pad om te loop voordat die seisoen op 31 Maart eindig, maar ons vat dit wedstryd vir wedstryd,” het Rooibaadjie aan Weskus Nuus gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article