Radwin Pietersen (18) sê hy en Naushief Jones (15) is nog baie eina nadat polisielede op hulle toegesak het.Foto: Murphy Roberts


“Dit is Atlantis, en hier skop ons julle in julle **.”

Radwin Pietersen (18) en Naushief Jones (15) beweer beamptes van die Atlantis-polisie het die twee tieners só toegesnou en die langsteel ingelê.

Die tieners van Neptune Castle verduidelik hulle was Saterdagmiddag op pad na vriende om hookah (okkapyp) te gaan haal toe die voorval gebeur het.

“Ons moes nog ’n paar minute wag terwyl my vriende en hul meisies klaar rook. Ons het die twee vangwaens agter die polisiekantoor sien uitkom en in dié tyd het twee tikkoppe verby ons gestap,” vertel Pietersen

Pietersen vertel die twee vangwaens het omgedraai en in hul rigting gekom.

“Die een het by die tikkoppe gestop en die ander een by ons. Die beamptes het al vloekende uit die voertuig geklim en ons uit ons ma’s gevloek. Ek kon nie verstaan hoekom die manne só aangegaan het nie, maar ons het gedoen wat hulle vra,” vertel hy.

Volgens die twee het die polisiemanne, sonder hul naamplaatjies, nie eenkeer ordentlik met hulle gepraat nie en het die kru woorde behoorlik gevlieg. Naushief sê een van die beamptes het hom opgetel en kop eerste laat val. Radwin vertel op sy beurt toe hy wou weet hoekom die polisiebeamptes dit doen, is hy gesig eerste teen die vangwa gegooi.

“Hulle wou my ook oplig en kop eerste teen die grond gooi toe ek my verset. Dit het hulle net nog kwater gemaak. Ek is teen die grond gegooi en het hulle op my agterkop getrap,” sê Radwin.

Sy ouer suster, Chanelle Pietersen, sê sy het hom ná die aanval Wesfleur-hospitaal toe geneem.

Pietersen het behoorlik gal gebraak oor die manne in blou “wat nou meer vrees inboesem as die skieters in die dorp”.

“Ons is nie almal tikkoppe nie en net omdat ons in die Castle woon, beteken dit nie almal hier behoort aan bendes nie,” vertel sy woedend.

Volgens Pietersen moes hulle vir drie dae stap om die saak aangemeld te kry.

“Die polisie het ons oor en weer gestuur en seker gedink ons gaan die hele besigheid maar los, maar dit is een geval wat nie ongesiens verby sal gaan nie,” het sy verseker.

Volgens Lt. Kol Mario Thyse, waarnemende stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, word ’n klagte van aanranding ondersoek.

Hy wou hom nie veel uitlaat oor die aantygings teen die polisiebeamptes nie, maar gesê “die ondersoek moet sy gang gaan”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article