Die berugte vierrigtingstop by die Dura-woonstelblok is gewis ’n brandpunt, sê die polisie.
Volgens lt.kol. Mario Thyse, waarnemende stasiebevelvoerder vir Atlantis, word al meer en meer mense by dié padkruising beroof, en in baie gevalle gebeur dit helderoordag.
Thyse sê voorts baie motoriste loop onder die skurke deur. Volgens Guellord Mutombo het hy onlangs ’n nare ondervinding gehad toe hy kollegas gaan aflaai het.
Mutombo vertel skurke het sy motor die aand tussen 23:00 en 00:00 met klippe bestook.
“Die ouens wou hê ek moes stop sodat hulle my kon beroof. Ek het egter besef wat hulle wou doen terwyl die meisies histeries gegil en skree het dat ek dit nie kan waag om te stop nie en ek moet liewer voet in die hoek sit.
“Die skurke gee nie om of daar kinders in die motor is nie,” vertel hy.
Volgens Mutombo is die kwaaddoeners ook nie bang om seer te kry nie en het hy byna een omgestamp omdat hulle weier om pad te gee. “Die skurke is vreesloos en is veral in die nagtelike ure op hul besigste,” meen hy.
Mutombo vertel toe hy by die polisiekantoor kom om die voorval aan te meld, was drie ander bestuurders, wat dieselfde oorgekom het, ook daar.
Volgens Thyse word verskeie klagtes van opsetlike saakbeskadiging en poging tot roof ondersoek. Die padkruising is ook onlangs deur JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, onder die top-10-brandpunte in die Kaapse metropool uitgewys.
Thyse het bevestig niemand is nog in hegtenis geneem nie.





