Drie Atlantis-jeug-sokkerspanne het vanjaar aan die Bayhill- Premier-beker-uitspeelwedstryde deelgeneem, maar oor die laaste hekkie gestruikel.
Eers is Aberdeen FC verlede Sondag (21 Januarie) op die William Herbert-sportgronde in Wynberg uitgeskop toe hy verloor het.
Die afgelope Sondag (28 Januarie) het Jomo’s Power en Robinvale Spurs ook na die William Herbert-sportterrein opgeruk om te sien of hy vir die 2024- o.19-Bayhill- Premier-beker-Paasfeestoernooi kan kwalifiseer.
Ongelukkig was dit nie hul dag nie en die span het oor die voorlaaste hekkie gestruikel, wat hom uit die Bayhill- Premier-beker-uitspeelronde geboender het toe die spanne onderskeidelik deur Eyethu FC en Junction Rovers met 3-1 en 2-1 verslaan is.
Jomo’s Power, wat eerste bloed geruik het, kan homself net skop vir die nederlaag weens te veel foute in die wedstryd.
Robinvale Spurs het ook nie sy kanse aangegryp nie en sy wedstryd deur oorhaastigheid weggegooi.
Dit het gelyk asof Spurs tog die knoop gaan deurhaak nadat hy die gelykmaker in die tweede helfte behaal het.
Hulle is egter uitoorlê en in die laaste vyf minute van die wedstryd deur Junction Rovers geklop toe dié ’n tweede doel behaal het, wat die wind uit Spurs se seile gehaal het.
Atlantis-jeug-sokkerspanne hoef egter nie sleg te voel nie, want daar is top- Kaapse akademiesespanne wat reeds vroeër uitgeskakel is.
Atlantis en sy gemeenskap is opreg trots op die dorp se jeugspanne van Atlantis, want hier is gewis talent in die dorp.





