Inwoners van Saxon Sea het Donderdag behoorlik gal gebraak oor die sogenaamde Smart Park van R13 m.
Die park het nou meer ’n onheilsnes geword en niemand vind baat daarby nie, het inwoners gekla.
Inwoners het aan die subraad 1-voorsitter en wyksraadslid Allister Lightburn en die subraad 1-bestuurder Wessie van der Westhuizen gesê hulle is nou keelvol om in vrees te lewe sedert die park nege jaar gelede opgerig is. Van die klagtes wat inwoners erg onthuts het, is rondloperperde, bende-aktiwiteite en dwelms.
Die Smart Park is op 12 Julie 2017 deur die destydse subraad 1-voorsitter en wyksraadslid Cynthia Clayton deur die Kaapse stadsraad teen R12 m laat oprig. Clayton het toe reeds aan inwoners gesê om nie misdadige aktiwiteite in die park te duld nie. Sy het inwoners gemaan om eienaarskap van die park te neem. Clayton het gesê die park is fase een met fase twee wat sou volg, maar het nie gesê wat die tweede fase sou behels nie.
Die park is toe reeds met gemengde gevoelens begroet met baie inwoners wat aangevoer het dit was ’n mors van geld wat beter aangewend kon word. Inwoners sê daar het dadels van gekom oor destydse beloftes dat die park omhein sou word. Vele meen dié buitelig-gebied het net ’n kopseer vir omliggende inwoners geword.
’n Groep ongelukkige inwoners het Donderdag ook laat weet hoe kinders wat die park voor en ná skool as deurgangsroete gebruik, beroof word.
Lightburn het aan die ongelukkiges gesê baie klagtes is sedert die opening van die park ontvang. Hy het egter gevra inwoners moet ’n komitee vorm sodat hy al die relevante departemente van die metro aan boord kan kry om die probleem te bespreek. Hy het ook gesê hy is nie bewus van ’n moontlike fase 2 van die projek nie.
Volgens Lightburn moet hy by die verskillende lyndepartemente gaan vasstel of ’n kapitaalbegroting geskep kan word omdat dit ’n kapitaalprojek was. Die wyksraadslid sê die kapitaalbegroting moet gevind word omdat die park onderhou sal moet word.
Hy het inwoners weer aangemoedig om eienaarskap van die park te neem.
Inwoners van Fairfield- en Enchantress-straat het gevra spoedhobbels moet aangebring word omdat motoriste onverskillig bestuur. Die groep ongelukkiges het ook gevra wetstoepassers “wat heeldag in die sentrum loop”, moet beter aangewend word. Die groep eis die beamptes moet liewer in die park ontplooi word om misdaad te bekamp.





