Die Atlantis-rugbyklub het Saterdag die Weskus-kampioen Mamre gepak en duisende ondersteuners het die derby geniet. Foto: Murphy Roberts


Met die nuwe rugbyseisoen wat reeds vroeg afskop, is spanne besig om hulle reg te kry. Atlantis, wat dié seisoen in die WP Superliga C speel, het Mamre Saterdag besoek.

Mamre, die Weskus-kampioen, wat sy voorbereiding reeds verlede week op ’n wennoot begin het, is ook vasbeslote om dié seisoen sy titel suksesvol te verdedig. Die twee spanne het in die eerste 25 minute goeie rugby opgedis, maar die dissipline het aan beide kante baie gelol. Die spel was baie gelyk en ’n gelykopstryd is voorsien.

Mamre het egter gewys hoekom hy die Weskus-kampioen is en het daarna die damwal gebreek om rustyd reeds 26-0 voor te loop. Atlantis het van die afskop af gesukkel om sy lynstaanbesit te behou. Die span kon ook geen weerstand in die vaste skrums bied nie en het baie strafskoppe afgestaan. Met die vuiste wat by tye wou klap, het beide spanne egter koelkop gebly. Atlantis se kanniedood-karakter en veggees was egter iets om te aanskou.

Die besoekers het ook kort voor rustyd hul “bom squad” op gestuur wat dadelik ’n verskil gemaak het in die vaste skrums wat die tuisspan op die agtervoet gehou het. Die twee spanne met jong aanvallende agterlyne het mekaar egter deeglik getoets en die besoekers het in die tweede helfte beter rekenskap van hulself gegee.

Mamre, wat die wedstryd 43-19 gewen het, het egter in die tweede helfte gesukkel terwyl die besoekers die een aanval na die ander afgestuur het en die tuisspan moes ook die meeste van die verdedigingswerk doen.

Die wedstryd kon gewis ’n ander wending geneem het indien die besoekers se besluitneming beter was. Atlantis, wat ook kosbare balbesit rigtingloos weggeskop het, moes daarna keer vir al wat hy werd was.

Derby-rugby is altyd genadeloos en Saterdag was weer ’n voorbeeld daarvan. Die twee spanne het op ’n volgepakte Mamre-veld gewys ’n opwindende seisoen lê vir beide spanne voor met Boland-ligaverpligtinge wat reeds volgende maand afskop.

Atlantis se afrigtingspan sal vir seker hard moet werk aan die span se dissipline en lynstaanwerk en enige span kan dan maar kom. Mamre se dissipline het ook gelol, maar dat dit die begin van die seisoen is, kan versagtend vir beide spanne dien.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article