Die Atlantis- primêre skole-atletiekvereniging het Vrydag 9 Februarie atletiek op Wesfleurpark aangebied en die atlete het uit die staanspoor reeds gewys hulle is reg vir hardloop.
Die eerste byeenkoms, wat deur Sone 2 aangebied is, het in kokende hitte plaasgevind, maar uitstekende atletiek is op die Park opgedis.
Groot atletiek word in die komende weke verwag wanneer die Kampioene van kampioene (16 en 17 Februarie) plaasvind.
Die Atlantis- primêre skole-atletiekvereniging is ook die gasheer vir die distriksbyeenkoms wat op 23 Februarie op Wesfleurpark plaasvind en opwindende atletiek kan verwag word.
Die WP-byeenkoms volg vier dae later op Woensdag 28 Februarie op die Dal Josafat-atletiekstadion in die Paarl.
In vanjaar se sone-byeenkomste is besluit alle naelloopuitdunne dien as eindlopies. Daar sal egter by Vrydag (16 Februarie) en Saterdag (17 Februarie) se kampioenskapsbyeenkoms eindrondes gehardloop word, wat sal bepaal wie vir die distriksbyeenkoms kwalifiseer.
Die 11-13-jaar- kort afstande en naellope vir meisies en seuns het gewis die aandag getrek en volgens Gary Markus van Saxonsea (voorsitter) kan toeskouers ’n goeie kampioenskapsbyeenkoms verwag.
Verlede jaar het Atlantis-skole baie goed gevaar en 12 atlete na die WP-kampioenskap in die Paarl gestuur, en uitstekend presteer deur drie plaaslike Wes-Kaapse kampioene op te lewer.
Die deelnemende skole wat in Sone 2 deelgeneem het, het gewys hulle is gereed vir die kampioenskapsbyeenkoms en atlete het mekaar uit die staanspoor tot die laaste sekonde die stryd aangesê.
Dit is nog te vroeg om te sê wie die uitblinkers gaan wees, maar met die hoëgehalte atletiek wat reeds op Wesfleurpark te sien was, kan toeskouers hul gazibo’s, sambrele, piekniekmandjies met yskoue water, koeldrank en roomys vir die kampioenskaps- byeenkoms pak om die hitte op Wesfleurpark te trotseer.
Teen druktyd het Sone 1 se atlete nog vir oulaas kliphard gespook vir ’n finale plek in die span terwyl Sone 2 reeds sy atlete vir die kampioenskapsbyeenkoms op 16 en 17 Februarie begin voorberei het.





