Egan Stubbs speel krieket in die beroemde Kaapstraat in Mamre. Foto:


Egan Stubbs, ’n gr. 6- leerder by Mamre Primêr, kon nie sy geluk glo toe sy niggie hom meegedeel het dat Betway SA20 en Krieket Suid-Afrika (KSA) hom na die eindstryd tussen die Eastern Cape Sunrisers en die Durban Super Giants op Nuweland genooi het nie.

Weskus Nuus het verneem dat Egan deel was van ’n sportprogram in samewerking met Newzroom Afrika, SA Betway, Supersport en Krieket Suid-Afrika (KSA).

Volgens Egan het sy niggie, Rowena Stubbs, sy ma, Meagan, eendag gebel en haar vertel dat Newzroom Afrika met ’n sportkompetisie besig is oor jong sportmanne en -vroue. Hy moes ’n kort video-opname van homself maak en vertel waarom hy van krieket hou en dit instuur.

Egan was oorstelp toe sy video gekies is, veral met die wete dat hy die geleentheid sou kry om die beste krieketspelers op nasionale en internasionale vlak op die krieket-mekka, Nuweland, te ontmoet.

Volgens Meagan, ’n enkelouer, is hy ’n baie maklike kind om groot te maak. Hy vaar goed in sport en akademie en is gretig om te leer as iemand hom wys.

“As hy en sy klein boetie, Keagan, aan kompetisies deelneem, is ek altyd sigbaar langs die baan of veld om hulle te ondersteun en te wys ek gee om en is lief vir hulle,” voeg Meagan by.

Weskus Nuus het ook met Rowena gesels oor haar verbintenis met krieket. Sy is ’n internasionale-krieket-tellinghouer vir KSA en WP Krieket. Volgens haar sal sy graag wil sien dat meer vir krieket by laerskole in Atlantis gedoen word, want “dit is baie stil”.

“Ek dink die sportprogram wat Newzroom geskep het, kan krieket by laerskole weer laat opvlam omdat krieket nie by Atlantis-skole gespeel word nie. Ek hoop ook dit gaan die begin van groot dinge wees.”

Mamre Primêr bied ’n pretloop op 19 Maart aan, en Rowena gaan in samewerking met die Stad Kaapstad ’n krieketbewusmakingsgeleentheid aanbied om dit by skole te bevorder.

Die familie bedank Rueben Abels (skoolhoof) en Gaylin Loock (peetouer) wat Egan tydens die program ondersteun het. Volgens Loock ondersteun families van Mamre mekaar, en dit is wat Mamre so besonders maak.

Abels se werk as hoof eindig nie wanneer die skooldag eindig nie. Sy betrokkenheid by sportontwikkeling in sy gemeenskap maak hom baie gewild omdat hy jong sportmanne en -vroue afrig en soms selfs ouers in moeilike omstandighede ondersteun.

“Ek is ongelooflik dankbaar aan Newzroom Afrika, Betway SA20 en KSA wat my deel gemaak het van die historiese gebeurtenis, wat ek altyd sal onthou,” het Egan aan Weskus Nuus gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article