Kapt. Lisa Munro sê die aanvalle op polisielede sal nie langer geduld word nie.Verskaf


Aanvalle op polisielede sal nie langer geduld word nie.

Só sê kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, ná nog ’n voorval waarin ’n verdagte op polisielede losgebrand het.

Volgens Munro het lede van Atlantis se misdaadreaksie-eenheid verlede Sondag (14 Januarie) tussen 17:00 en 18:00 op ’n skietvoorval in Heathfield-woonstelle reageer.

Ná hul aankoms het lede die verdagtes te voet agternagesit, waarna een van die verdagtes, wat met ’n vuurwapen gewapen was, omgedraai en op polisiebeamptes begin skiet het. Munro sê die polisie het teruggeskiet, en die gort was gaar.

Munro vertel: “(Lede van) die gemeenskap het nadergestorm en die polisie aangeval, met klippe bestook en gedreig om na ’n polisielid se woning te gaan en hom dood te skiet”.

Die polisielede moes hulle noodgedwonge om veiligheidsredes onttrek. Volgens Munro is dit nog nie duidelik hoekom hulle aangeval is nie.

“Die polisie is ’n groep mense wie se taak dit is om reg en orde te handhaaf, misdaad te bekamp, die gemeenskap te beskerm en tydens noodgevalle op te tree,” verduidelik sy.

Sy sê dit is hartseer om te sien dat die gemeenskap hulle by bendes skaar, wat hul broers, susters, familie en vriende seermaak en dreig, en ook wetstoepassers aanval wat in dieselfde woonbuurt as hulle woon. Volgens Munro moet lede wat in die probleemgebiede woon, hul lewe waag om die gemeenskap te beskerm.

“Die vraag ontstaan watter vergoeding kry die gemeenskap van die elemente? Hierdie soort optrede gaan nie geduld word nie want die polisie sal geen steen onaangeroer laat om die skuldiges op te spoor en in hegtenis te neem nie,” sê Munro.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article