Konst. Jarred Wylie, konst. Sulaiman Norton, konst. Mecula Nielle en sers. Sabelo Gcilitshane met die vuurwapen en twee van die verdagtes wat aangekeer is. Foto: Verskaf


Terwyl die polisie in sekere dele van Atlantis vir hul lewe moet skarrel wanneer hulle misdadigers vasvat, doen inwoners van Saxonsea dit anders. Inwoners van dié gebied het verlede jaar tydens ’n vergadering gesê hulle is keelvol vir die skietery in hul gebied en sal voortaan die skieters “piemp”.

Die groep het aan die raadslid Allister Lightburn gesê hulle gaan gewis nie meer stilbly nie en dit maak nie saak of dit familie, vriende of bure is wat hulle in vrees laat lewe nie.

Inwoners doen hul belofte nou gestand en het ’n deurslaggewende rol gespeel in die inhegtenisneming van drie verdagtes wat betrek word by ’n poging-tot-moord-voorval Dinsdag 20 Februarie in Ghikastraat, waar ’n 28-jarige man geskiet is.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, was die inligting van die gemeenskap deurslaggewend en verskeie mense is in hegtenis geneem. Volgens Munro is verdagtes deur die ondersoekbeampte, sers. Elo Hendricks, aangekeer en steeds in aanhouding.

Munro sê die gemeenskap het verdere inligting verskaf en die wapen wat in die voorval gebruik is, is in Hoopsingel gevind, waar nog twee mans aangekeer is. Volgens Munro het die plaaslike misdaadreaksie-eenheid die adres besoek en die vuurwapen gevind.

Die waarnemende stasiebevelvoerder, lt.kol. Mario Thyse, sê dit is duidelik dat inwoners van die gebied keelvol is vir die skieters en kry hulle gereeld inligting uit die gebied. Thyse sê ook hy is trots op die lede van die gemeenskap wat hul woord gestand doen en het inwoners aangemoedig om aan te hou om met die polisie saam te werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article