In Julie begin Skemergrond – ’n nuwe en opwindende Afrikaanse telenovelle – op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) vol diep bewaarde familiegeheime, wraak, ware liefde, leuens en verbrokkelende vriendskappe.
Skemergrond sal kykers vier aande ’n week vasgenael voor die kassie hou. Dit kom in die plek van Arendsvlei, ’n telenovelle wat baanbrekerswerk gedoen het sedert die eerste episode op 1 Oktober 2018 uitgesaai is, maar in Junie vanjaar tot ’n dramatiese einde kom.
Skemergrond speel af in Gemoedsdrif, ’n klein dorpie in die Wes-Kaap, en draai om die Louw-familie en hulle pragtige blomplaas. Die Louws se rustige bestaan word omver gegooi wanneer onverwagte gaste opdaag wat dreig om skokkende familiegeheime te onthul. Ou wonde word oopgekrap en nuwe bande gesmee om die Louws en hulle nalatenskap te red en te beskerm.
Roxanne Blaise, bekend vir haar rolle in Sara se geheim en White Lies, is die hoofregisseur. Sy was ook een van die regisseurs van Arendsvlei. By verlede jaar se Silwerskermfees het sy saam met Mujaanhid Valley die toekenning vir die beste draaiboek vir die kortfliek Die Blokke gewen. Roxanne is ook as beste regisseur vir Die Blokke benoem.
Roxanne sê hulle is verheug oor hierdie fantastiese geleentheid. “Die vars en opwindende rolverdeling gaan ’n epiese familiesage na die kassie bring. Skemergrond speel af tussen die Wes-Kaapse platteland en die blommemarkte van Kaapstad en is vol interessante karakters wat donker geheime saam met hulle dra.”
Die ander regisseur is Marissa Drummond, wat ook voor die kameras naam gemaak het in reekse soos Spoorloos: Die eiland en Suidooster.
Bobby Stuurman, wat met Arendsvlei sy opleiding as regisseur gekry het, is die leerlingregisseur en dialoog-afrigter.
Die reeks word deur Penguin Films vervaardig, wat reekse en rolprente soos Sara se geheim, Fishy Fêshuns, Afgrond en Diepe Waters op sy kerfstok het.
Roberta Durrant en Andrea Frankson-Titus is die kreatiewe vervaardigers van Skemergrond. “Ons het ’n uitsonderlike rolverdeling en ’n briljante span mense agter die skerms bymekaargebring om hierdie veelvlakkige storie vol geheime, liefde en wraak te vertel. Kykers gaan aangegryp en verras word deur al die emosionele kinkels,” sê Roberta.
Die rolverdeling van Skemergrond word later aangekondig, maar sluit legendariese spelers sowel as opwindende jong talent in. . Skemergrond begin in Julie 2024. Dit sal van Maandag tot Donderdag om 19:30 uitgesaai word.


