Die Mamre Hawks-krieketspan het sy staal teen Wesbank van Kaapstad gewys, maar uitgemis op ’n tweede posisie op die punteleer toe hy Saterdag teen South Peninsula vasgeval het.Foto:


Mamre Hawks het die Wesbank-krieketspan van Kaapstad voorverlede Saterdag (17 Februarie) op tuisbodem by die Mamre-sportterrein gepak.

Met ’n bietjie geluk aan die kant van Mamre Hawks het sy kaptein, Elton Vlotman, die loot teen Wesbank gewen en besluit om eerste te kolf.

Die openingskolwers, Vlotman (16), en Anre Parring (6) is vroeg uitgehaal. Duwayne Cupido se goeie beurt van 64 van 66 balle was uitstaande en is goed ondersteun deur Ralston Bruintjies, 27* (n.u.n.) van 37 balle. Charlton Adonis het 22 lopies van 28 balle aangeteken, en hy en die stertkant-kolwers het gehelp om ’n skaflike telling van 197/7 op die telbord te plaas.

Wesbank se openingskolwers het met sy beurt die teiken van 198 lopies begin jaag. Briljante boulwerk deur die Hawks het Wesbank se kolwers genadeloos met kortballe gepeper.

Die twee openingskolwers van Wesbank het ’n vennootskap van 51 lopies aangeteken voordat die eerste paaltjie gekantel het, en dit het vir ’n oomblik gelyk asof hulle nogtans die teiken van 198 lopies gaan afslaan.

Die veteraan Regan Adonis het egter ander planne gehad. Hy het die vennootskap met sy blitsballe in die dertiende boulbeurt (13.3) beëindig.

Sewe lopies later het Charlton Adonis nog ’n paaltjie laat kantel (58/2). Die twee nuwe kolwers het Wesbank se telling egter laat aanrol tot 96/2 voordat Hilton Zibeon met sy draaiballe toegeslaan en die derde paaltjie op 96/3 in 27.5 boulbeurte laat kantel het.

Charlton Adonis se akkurate boulwerk het dit moeilik gemaak vir Wesbank se kolwers om lopies aan te teken. Met Regan Adonis terug op die aanval het hy Wesbank se vierde paaltjie in die 28ste boulbeurt (28.4) op 99/4 laat kantel. Vier boulbeurte later het Hilton Zibeon toegeslaan en die vyfde paaltjie ná 31.4 boulbeurte ingeoes.

Wesbank het op 110/5 gewankel en die gevaarligte het begin flikker.

Hoewel Marshall Schippers nie ’n paaltjie kon inoes nie, het hy briljant geboul en Charlton Adonis goed ondersteun. Charlton, die beste Hawks-bouler op die dag, het weer toegeslaan en nog twee paaltjies laat kantel vir die beste ontleding van die dag van 8-1-16-3. Hy is goed ondersteun deur Reagan Adonis, wat Wesbank se kolwers met kort aflewerings gekarnuffel het. Sy boul-aanval van 7-0-34-2 het Mamre Hawks gehelp om Wesbank op 110/5 in 31.4 boulbeurte te laat steier. Zibeon se 5-02-5-35 het die Hawks gehelp om Wesbank tot 156/7 in sy toegelate 40 boulbeurte te beperk vir ’n oorwinning van 41 lopies.

Met die oorwinning oor Wesbank het die Hawks tot in die derde posisie op die punteleer geklim en was hulle net drie punte agter Macassar.

Hawks en South Peninsula het Saterdag (24 Februarie), op die Mamre-sportterrein gespeel, wat sou bepaal of die Hawks tot in die tweede posisie sal vorder.

Die Mamre Hawks het egter in dié wedstryd met 118 lopies teen die voorloper vasgeval en bly voorlopig in die derde plek.

South Peninsula is onoorwonne in die liga met slegs die Hawks wat vroeër in ’n wegwedstryd gelykop teen hulle kon eindig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article