Mamre het Saterdag op sy tuisveld weens swak dissipline in sy wedstryd teen die voormalige Boland-kampioen Saldanha volpunte op ’n silwer skinkbord aan die besoekers gegee.
Mamre, die streekkampioen, het die besoekers van die eerste minuut af onder druk geplaas en was rustyd 21-8 voor. Die blou Tsoenami het sake egter omgedraai en die wedstryd 38-32 gewen. Mamre, wat die besoekers in die eerste helfte met skitterende verdediging op die agtervoet gehou het, het ook die meeste gebiedsvoordeel en balbesit geniet.
Saldanha het in die eerste paar minute tot by die tuisspan se doellyn gevorder, maar die Mamre se rotsvaste verdediging het verhoed dat Saldanha die doellyn oorsteek. Die besoekers, wat met ’n strafskop eerste bloed geruik het, moes egter daarna keer vir al wat hy werd was.
Die groentruie van Kenny Stadler was met drie verdoelde drieë in beheer van die wedstryd en ’n rugbyles het op die besoekers gewag.
Mamre het egter in die tweede helfte die kluts kwytgeraak en met twee geelkaarte en ’n rooikaart die besoekers toegelaat om die tweede helfte te oorheers. Saldanha het daarna die tuisspan gewys hoekom ’n wedstryd in 80 minute gewen word, en nie in 40 minute nie.
Saldanha, wat ná die wedstryd steeds onoorwonne is, het egter koelkop gebly en die tuisspan die meeste van die verdediging laat doen met 30 punte wat in die tweede helfte aangeteken is en die wedstryd in die laaste 10 minute nog enige kant toe kon swaai. Bradwin Prins het met sy driekuns weer eens gewys hoekom hy die prins van vleuels is.. St. Helenabaai het op sy tuisveld die troepe van Ruben Abels heeltemal oorskadu met ’n oorwinning van 41-21. Die wedstryd, wat ná die eerste helfte nog redelik gelykop was, het ook die tuisspan in die tweede helfte na ’n hoër rat laat oorskakel om die besoekers se tempo te breek.
Met die seisoen slegs twee wedstryde oud is Saldanha en Vredenburg die enigste twee onoorwonne spanne. Met die Westelike Provinsie-liga wat eers in April begin, speel Atlantis en Hamlets nog vriendskaplike wedstryde.
Hamlets het Saterdag op sy tuisveld Bellville oortuigend met 66-28 geklop terwyl Atlantis op sy tuisveld Hamiltons 62-12 afgeransel het.
Volledige uitslae:
Weskus
Mamre 32-38 Saldanha, St Helena 41-21 Young Hearts, Langebaan 31-25 Velddrif, Piketberg 22-26 Vredenburg
Swartland
Goodhopes 38-33 Abbotsdale, Riebeeck United 38-33 Darling, Porterville 34-15 Villagers Wittewater, Saron 25-20 Wesbank en Never Despairs 38-22 Moorreesburg
Die naweek speel Vredenburg teen Mamre, Saldanha teen Hopefield, Paternoster teen Langebaan, Velddrif teen St. Helena en Steenberg’s Cove teen Piketberg.


